AANBIEDERS

Johan Rademan
Veelsydigheid sonder grense. Verwag ‘n simfonie van uitsaai wanneer Johan Rademan die klankgolwe van RSG laat vibreer. Gee hom’ n rugbybal, 4x4, nuusbulletin, musiekprogram, dokkie of drama en hy tower van Spoegwolf tot Steppenwolf op. “Kyk vererings, pryse en akkolades smelt soos sjokolades,” sê dié multi-bekroonde omroeper, regisseur en sportkommentator. “Die oomblik wanneer die rooi lig aangaan en die mikrofoon lewendig is, is die oomblik van waarheid. Jy’s so goed soos jou laaste program of uitsending.” Reis en letterkunde is van sy groot liefdes. Die duurste Arabica koffie op St. Helena-eiland, verskroeide Robusta op Ethiopië se hooglande of rooibostee uit Heuningvlei in Wuppertal laat hom tintel van vreugde. Met ‘n graad in Drama van die US, werk hy van ‘n drama-ateljee tot die grootste sportstadions van die wêreld, en sluit hy af met die gewaarwording van Salomo, Samuel en Shakespeare. “Alles wat glinster, is nie goud nie” Dus: Kortom, Kortpad, maar nooit Kortaf nie.