Jacqui kan Sondae op RSG gehoor word in Leefwêreld van die Gestremde en Dis Gospel. Dié Namakwalander - 'n trotse ouma - het wortels geskiet in Johannesburg en is baie lief vir die stad. Sy geniet dit om Suid-Afrika in al haar fasette en lieflike bio-diversiteit plat te reis. En noudat sy vryskut, reis sy graag na vreemde verre lande.... en beveel Turkye as bestemming aan vir enige reis-wenslys! Jacqui is lief vir uitsaai, en veral die platform wat dit bied om mense se stories te vertel. Al is sy net toevallig in 'n plattelandse dorpie of in 'n wêreldstad, is die mikrofoon altyd byderhand om 'n storie of 'n interessantheid op te neem vir uitsaai. Jacqui hou van tuinmaak - van gekleurde babawortels tot pragtige blomme. Haar deurmekaar tuintjie is haar bidplek.