“As dit so is dat elke mens op hierdie aarde ‘n roeping het, is radio my roeping.” Dit is hoe Renske Jacobs oor die radiowese voel, en waarom sy na meer as 20 jaar in die bedryf steeds gretig, soms selfs gierig, is om te leer. Renske is tans deel van RSG se ontbytprogram, Op en Wakker. Sy is ook betrokke by dramaverwante projekte as regisseur, vervaardiger en akteur. Sommige aande skryf sy nuus vir die SAUK se Afrikaanse TV-nuusbulletin. Renske is ook ‘n toegewyde ma, en is lief daarvoor om te beweeg en aan die gang te wees. Dis vir haar belangrik om te sorg dat liggaam en gees so gesond as moontlik is, sonder om haarself te ontneem van die klein plesiertjies in die lewe. Dinge wat vir Renske saakmaak, is lojaliteit, deursettingsvermoë, integriteit, respek, opregtheid en regverdigheid.