AANBIEDERS

Udo Carelse
Toe die rooi lig destyds vir sy heel eerste nuusbulletin aanskakel, het hy geweet die mediawêreld is hom beskore. Dít was 22 jaar gelede by die Kaapse radiostasie, KFM. Ná meer as twee dekades het Udo Carelse al verskeie rolle vervul in die mediabedryf, onder meer as nuusredakteur by die jeugradiostasie, YFM, en as nuus- en aktualiteitsaanbieder en redakteur by 702 en Cape Talk. Sy passie vir sport het hom ook blootgestel aan die rol as aanbieder en regisseur van verskeie programme op eTV en Supersport. Dit het hom ook die kans gegun om die wêreld plat te reis. Daar is talle Olimpiese Spele en wêreldbekers waarmee hy op sy CV kan spog. Ná 15 jaar weg van die SAUK, is hy weer terug op die kassie en radio as rugby-, krieket- en atletiekomroeper by SABC Sport. Hy is die aanbieder van The Weekend View op SAFM, en die aanbieder van die nuus- en aktualiteitsprogram, Monitor. Hy is 'n trotse seun van die Wes-Kaapse dorpie, Atlantis, en ongeag sy omstandighede bly sy leuse: Dum Spiro Spero. (Terwyl ek asem haal, bly ek hoopvol)