RSG Nou

Topstories



Vrydae en Donderdae
Reggie Philander gaan voortaan Vrydagaande langer saam met luisteraars kuier. Skud dit word verleng tot en met middernag en sal dus vanaf 21:20 tot en met 00:00 op lug wees.Nog ‘n nuwe stem


RSG se splinternuwe middagvervolgverhaal, Sending van ver, is spesiaal ontwikkel en geskryf deur Eben Cruywagen ter viering van Afrikaans 100. Luisteraars kan vanaf 7 April 2025 elke weeksdag inskakel (behalwe op 18 April, Goeie Vrydag) vir 23 episodes. Die finale episode word op 8 Mei 2025 uitgesaai, op die dag waarop Afrikaans as amptelike taal se eeufees gevier word. RSG se radiodrama-afdeling het reeds sedert Mei 2024 inhoud geskep wat opbou tot die Afrikaans 100-vieringe. As deel hiervan is Eben Cruywagen opdrag gegee om ‘n reeks ou verhale te verwerk en nuwe stories te skep wat Afrikaans se ryk geskiedenis en veelsydigheid uitbeeld. Verskeie van hierdie verwerkings is reeds beskikbaar as potgooi:
- Die Sprinkaanbeampte van Sluis – Luister hier
- Ou Leeumelker – Luister hier
- Gelykheid en Broederskap – Luister hier
‘n Huldeblyk aan Afrikaans se verbeeldingskrag
Eben Cruywagen vertel: “Ek wou met hierdie vervolgverhaal eerstens die kreatiwiteit, veelsydigheid en aanpasbaarheid van die taal uitbeeld, asook die vermoë om neologismes te skep (al is dit op kwasiwetenskaplike terrein, soos in die verre toekoms in ’n sterrestelsel ver, ver van hier, om George Lucas van Star Wars-faam se bekende aanhef te gebruik). Tale wat letterlik honderde jare ouer is as Afrikaans, soos die Wes-Germaanse Duits en Nederlands, is traag om neologismes te skep. Indien ons egter in Afrikaans nie met ’n gepaste nuutskepping vorendag kan kom nie, plooi ons daardie vreemde woord om sodanig verafrikaans te word, dat dit inderdaad klink soos ’n oorspronklike Afrikaanse woord! Ek hoop dus dat die luisteraar hierdie verhaal sal beleef as ’n prettige spel met die wonder van die Afrikaanse taal. (En mag hierdie kosbare taal van ons iewers in die verre toekoms tóg Intergalaktiese status beleef ...!).” Die vertrekpunt vir Eben begin by “C.J. Langenhoven se Loeloeraai, wat in 1923 deur Nasionale Pers Beperk uitgegee is, en word allerweë as die heel eerste wetenskapfiksieverhaal in Afrikaans beskou. As een van die groot rolspelers om Afrikaans as amptelike taal verklaar te kry, is hierdie verhaal dan ook ’n huldeblyk aan C.J. Langenhoven vir sy belangrike bydrae as Afrikaanse taalstryder. Alhoewel Sending van Ver as sodanig nie as ’n verwerking van Langenhoven se verhaal beskou kan word nie, word daar tóg in sekere aspekte in hierdie kort vervolgverhaal gedeeltelik en baie vry geploeg met Langenhoven se kalwers. Daar word immers in 1923 op Oudtshoorn ’n draai gemaak waar Loeloeraai sy aardse besoek aan Neelsie, Vroutjie, Engela en Oom Stoffel bring, kompleet met Jakhals, die skaaphond en Herrie, die olifant.”‘n Ruimtereis deur tyd en taal
Die regisseur, Johan Rademan, gee lewe aan hierdie uitdagende vervolgverhaal: “Soos Loeloeraai in 1923, is Sending van ver ‘n toonaangewende letterkundige skat. Die genre van dialoog as opvoedkundige hefboom word kundig aangewend deur Cruywagen, nie net om aan te sluit by die huidige debat oor taal en 100 jaar tyding nie, maar ook om te dissekteer en vrylik te projekteer met uitdagende aannames en gevolgtrekkings. ʼn Kragtoer en 'n "Starwars"- skouspel word geskep met ʼn eie tyd-ruimtelike plekspesifieke taalsisteem wat geografies oor tyd en ruimte afspeel. Hoe anders word geskiedenis en geografie dan beter uitgebeeld vir die moderne oor? Die lakmoestoets lê in ʼn werkbare, uitvoerbare kort vervolgverhaalstorie met radiospelers wat dit uitmuntend uitvoer - Johan Rademan.”Die storie
In die verhaal reis Loeloeraai (DeKlerk Oelofse) uit ‘n sterrestelsel ver, ver hiervandaan na ons heelal. Onder die dekmantel van kulturele samewerking, soek die besoekers eintlik belangrike grondstowwe om hul eie planeet se oorlewing te verseker. Loeloeraai, onbewus van hierdie agenda, fokus op Sagmoedige Neelsie (André Terblanche) se strewe om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Dit neem hom na 1997, waar hy ‘n jong student, Didius Deelman (Enrico Hartzenberg), ontmoet – ‘n entoesiastiese ruimtevaartliefhebber aan die Universiteit Stellenbosch. Maar Loeloeraai se besoek het ‘n ander doel: hy soek ‘n geheime agent uit die toekoms wat, vermom as ‘n genetikus (Wilhelm van der Walt), probeer om die geen wat spraak moontlik maak te elimineer. Sonder kommunikasie is daar geen ontwikkeling nie – ‘n bose plan om die mensdom se vermoë om te kommunikeer, en dus hul grondstowwe, te beskerm. Didius word betrek by die stryd en per ongeluk reis hulle 3 000 jaar die toekoms in. Daar ontdek hulle ‘n verwoeste Taalmonument, ‘n wêreld waar mense haweloos, stom en verarm is – die genetikus het in sy plan geslaag! Met ‘n desperate terugkeer na 1997, slaag Loeloeraai en sy metgeselle daarin om die genetikus te keer en die toekoms te herstel. Op 8 Mei 5025 keer hulle terug na die Taalmonument, maar hierdie keer word hulle begroet deur die enorme Intergalaktiese Taalinstituut. Afrikaans het uiteindelik ‘n intergalaktiese taal geword!Ster-rolverdeling
Die produksie spog met ‘n indrukwekkende rolverdeling, waaronder:- DeKlerk Oelofse as Loeloeraai
- Anrich Herbst as Kommandeur Watwo
- Maria Vos as Cleoz
- André Terblanche as Kerneels / Neelsie
- Ilne Fourie as Vroutjie / Lenie
- Jane de Wet as Engela
- Johann Nel as Oom Stoffel
- Enrico Hartzenberg as Didius Deelman
- Sharfa du Plessis as Bonita February
- Pieter van Zyl as Keiser Maksor
- Jacques Bessenger as Kaptein Malfor
- Wilhelm van der Walt as Professor Provo van Thijn / Rascha Dumwar
Ons eerste Radioteaterseisoen van 2025 begin op 3 April en duur tot 26 Junie, elke Donderdagaand om 20:00. Luisteraars kan uitsien na oorspronklike wentekste, onvergeetlike stories en ‘n paar verrassende nuwe klanke.
Die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV gee skrywers die geleentheid om hulle skryfvernuf te toets, ‘n kans te staan om groot prysgeld te wen, en hulle werk op die radio te hoor. Die ATKV en RSG is opgewonde om 2024 se wendramas en die belegging wat in skrywers gemaak word, ten toon te stel.
Alle dramas is ná uitsending op potgooi beskikbaar.
3 April
Die seisoen begin met die wenner in die afdeling vir jong skrywers, die twee-en-twintigjarige Shawn Day se drama, Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann, met regie deur Luan Jacobs.
Die verhaal vertel van Malan (Hannes Brümmer), ‘n joernalis, wat die verdwyning van ‘n professor ondersoek nadat sy dagboeke deur sy vrou gepubliseer is. Daar is vrae wat nie beantwoord kan word nie. Malan soek sonder ophou om die geheim op te los wat sy lewe begin oorheers.
Hannes Brümmer, Mari Molefe van Heerden, Sulette Thompson, Francois van Rensburg, Elzabé Zietsman en Francois Stemmet is deel van die rolverdeling.
10 April
Die merietepryswenner Manie Groenewald se drama, Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel vertel van Stella (Rika Sennet) wat 64 word en in Huis Silwerland woon. Sy het niemand vir die geleentheid genooi nie. Haar buurman slaag daarin om haar uit haar depressie te kry. Maar dan daag ʼn tweede gas op.
Johny Klein is die regisseur met Rika Sennet as Stella, Tobie Cronjé as Ockert en Luan Jacobs as Bertie in die rolverdeling.
17 April
Lyne wat kruis deur Wilmi Wheeler het die derde plek behaal, en vertel van Janine (Izel Bezuidenhout), vol twyfel en vars in die grootmenswêreld. Lindsay, ’n meer ervare kollega, gooi vir haar ’n reddingsboei: ’n lys van kliënte. Maggie is vasgevang in ’n toksiese huwelik en met elke gesprek trek sy Janine al dieper in haar wêreld in. Pietie Beyers het hierdie aangrypende verhaal geregisseer met bekende spelers soos Izel Bezuidenhout, Heidi Mollentze, Erin Patience, Johny Klein en Rian Terblanche in die rolverdeling op 17 April.
18 April
Die Paasdrama uit die argief, Die leë graf (2020), kan op 18 April om 14:00 weer gehoor word. Nikodemus (Richard van der Westhuizen) beleef ‘n geloofstryd. Kan hy sy posisie in die Sanhedrin prysgee om Jesus openlik te bely, of skuil hy vir die res van sy lewe onder die dekmantel van die nag? Helena Hugo is die skrywer en regisseur met Lochner de Kock, Richard van der Westhuizen, Pietie Beyers, Francois Stemmet, Ria Smit en Charlie Bouguenon in die rolverdeling.
24 April
Leniesgif, deur Hendie Grobbelaar, is die naaswenner van die skryfkompetisie en kan op 24 April gehoor word. Benjamin de Kai (Carel Nel) is ʼn uitgebrande hygromanskrywer. Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, stuur hom na Leniesgif om te fokus en skryf. Daar is wel ‘n paar verrassings wat wag. Hoe pas Benjamin in Dania se plan? Amor Tredoux is die regisseur met Carel Nel, Conradie van Heerden, Ronel Geldenhuys, Lochner de Kock, Talana Rossouw (debuut), en Anene Loots (debuut) in die rolverdeling.
1 Mei
Die 2024 wenner van RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV was Marion Erskine met sy futuristiese drama, Konneksie. Dawid le Roux (Anrich Herbst) is ‘n rekenaarprogrammeerder in die jaar 2050. Hy is nie te vinde vir menslike geselskap nie, en is tevrede met sy persoonlike androïede, Amanda. Die wêreld van kunsmatige intelligensie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie. Luister op 1 Mei na Konneksie, met Johan Rademan as regisseur en Anrich Herbst, Karli Heine, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Deon Lotz, Sharfa du Plessis en June van Merch in die rolverdeling.
8 Mei
Afrikaans as amptelike taal word in 2025 100 jaar oud en RSG-Radioteater het seker gemaak daar is genoeg drama en intrige om die taal se kleurryke verskeidenheid ten toon te stel. Eben Cruywagen het reeds in die tweede seisoen van 2024 die viering ingelui met verwerkings van twee kortverhale Ou Leeumelker deur JWF Grosskopf en Gelykheid en broederskap deur Abel Coetzee, asook ‘n verwerking van Die Sprinkaanbeampte van Sluis, deur Jochem van Bruggen in ‘n kort vervolgverhaal.
Die Sprinkaanbeampte van Sluis – Luister hier
Ou Leeumelker – Luister hier
Gelykheid en Broederskap – Luister hier
Afrikaans is op 8 Mei 1925 as amptelike taal verklaar. RSG-Radioteater bied op dié dag ‘n spesiale radiodrama Ken jy vir Fytjie Eland? aan, deur Eben Cruywagen. Fytjie (Claudia Jones) is verlief op Tariq, maar dit dra nie haar ouers se goedkeuring weg nie. Dis die jaar 1913. Fytjie loop weg saam met Tariq. In ‘n poging om haar op te spoor tref Johannes (Johny Klein) en Katrina Eland (Eloise Cupido) soveel mense aan op die pad. Tot hulle aankom by Senator Christiaan en sy vrou, Francina Brand se huis. Terwyl die Elands hulle dogter weer vind ná ‘n soektog van 13 jaar, word ‘n taal gebore. Met Lelia Etsebeth as regisseur en Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne in die rolverdeling. Gavin Mathys van WITS is die aksentafrigter vir die opname.
15 Mei
Leon van Nierop is die regisseur van, As kluise kon praat, deur Marion Erskine. Die verhaal is losweg gebaseer op die 1977 Krugersdorp-bankroof wat tot vandag toe nog nie opgelos is nie. Van Nierop het berge versit met uitdagende byklanke en regie wat die drama in vele opsigte grensverskuiwend maak. Vier mynwerkers besluit hulle gaan die grootste bankroof in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitvoer. Hulle beplanning was so fyn dat geen spoor agtergelaat is nie. Net ‘n paar rooi gesigte en vier Elvis-maskers. Skakel op 15 Mei in om Charlie Bouguenon, Karen Wessels, Kaz McFadden, Estelle Grobellaar, Kevin Smith, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer te hoor in hierdie boeiende verhaal.
22 Mei
My Japan bly ‘n gunsteling uit die argief. Op 11 Maart 2011 het ʼn verwoestende tsoenami Japan getref. ʼn Onderwyseres wat Engels in Japan onderrig het, Angelique Naudé, het die ramp eerstehands meegemaak en het haar ervarings en indrukke met die bekende joernalis Schalk Schoombie gedeel. Schalk het dit toe in ʼn pryswennende jeugdrama verwerk, en toe as radiodrama. Leon van Nierop het die regie behartig met Donna-Lee Roberts, Rolanda Marais en Melt Sieberhagen in die hoofrolle teenoor Stefan Vermaak, Christine Voorendyk en Ursula Vorster te hore op 22 Mei.
29 Mei
Rooi Papawer uit die pen van SD Fourie op 29 Mei, is keurig regisseer deur Mari Snyman. ‘n Liefdesverhaal vervleg met die Griekse mitologie vertel ‘n verhaal van hartseer, versoening, en emosionele verlossing. Met Stephanie Baartman (debuut), Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon en Louise Eksteen in die rolverdeling.
5 Junie
Albert Maritz se ‘n Hospitaalsaal in Bloem, roer die nostalgie wat herinner aan ‘n tydperk van diensplig en opoffering, twee begrippe wat oorlog definieer. In ‘n oorlogshospitaal word iets van alles in ‘n kookpot gegooi. En binne die vier mure is min wegsteekplek. Verbeel jou jou waarnemer beskou, soos ‘n voël van hoog af, almal se beste pogings om oorlewing. Joanie Combrink as regisseur laat hierdie verhaal op 5 Junie lewe kry.
12 Junie
Broodlyn plaas die fokus op Vadersdag. Die drama ondersoek die verhouding tussen ‘n pa, Franklyn, en sy twee seuns. Na al sy suksesse besluit hy dis tyd dat sy seuns in sy voetspore volg en hy wil alles aan sy seuns oorlaat. Die stryd om bo die broodlyn uit te styg is ‘n konstante bekommernis en kan die familie skeur of versterk. Hein Poole is die skrywer van Broodlyn op 12 Junie.
19 Junie
Die laaste ontsnapping op 19 Junie, is ‘n boeiende verhaal deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard, en ʼn blik op daardie onbekende wêreld in die tronk. Die tronk is egter meer as geweld, seks en dwelms. Daarom het die skrywers besluit om ʼn menslike storie te vertel. Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn – die antiheld van sel ses – om hom dood te steek. Roux besluit om eerder vir Lupin te probeer help ontsnap. Die rolverdeling sluit Andre Odendaal, Mortimer Williams en JJ Roberts in. Eddie de Jager behartig die regie.
26 Junie
Die seisoen sluit op 26 Junie af met ‘n verwerking van Die Damhuis, deur Reinet Nagtegaal. Henriëtta Gryffenberg het die verhaal keurig verwerk vir die radio. Dit vertel die storie van die bekende restaurant Die Damhuis op Melkbosstrand. ‘n Verhaal deur die oë van vroue wat die storm-en-drangjare van anneksasie, die stryd om eienaarskap, en die vryspreek van slawe trotseer het. Met regie deur Sophia van Taak.
Sondagaand, 6 April om 19:00, begin ’n splinternuwe reeks episodes van Wat het jy in jou hand, saam met Lizelle de Bruin van RSG se Binnekamer. "Wat het jy in die hand" is ’n program oor gewone mense wat buitengewone verandering bring. Elke episode vertel die storie van iemand wat met min begin het, maar met deursettingsvermoë en passie ’n verskil in hul gemeenskap gemaak het. Of dit nou ’n klein besigheid, ’n kreatiewe projek of ’n sosiale inisiatief is, hierdie mense wys dat jy nie alles hoef te hê om iets groots te bou nie – jy het reeds genoeg in jou hand. Hierdie seisoen ontmoet ons inspirerende individue wat uit niks iets besonders geskep het. Van entrepreneurs wat gemeenskapswerk skep tot leiers wat hoop bring in moeilike tye – hulle stories sal jou motiveer om na jou eie vermoëns te kyk en te vra: Wat het ek in my hand? Met elke episode kry jy insig in hoe hulle uitdagings oorkom het en hoe jy dieselfde kan doen, ongeag waar jy is of waarmee jy begin. Die reeks skop af met die vroue van Ukutunga in die Laeveld wat met gehekelde diere kos op die tafel sit. Lizelle gesels onder andere ook met die kerkraad van die Môrewag gemeente in Primrose oor die planne wat hulle maak om die boeke te laat klop en die kerk se deure oop te hou. Ons hoor van sokker afrigters wat leierskapsontwikkeling doen en vele meer sulke stories vanoor die hele Suid-Afrika, van die Weskaap, deur die Vrystaat en Gautng tot in die Laeveld. Moenie hierdie opwindende nuwe seisoen misloop nie! Skakel in op Sondagaand 6 April om 19:00 en laat jou inspireer deur mense wat bewys dat klein beginne groot impak kan hê. Deel ook jou gedagtes en eie storie met ons op sosiale media – wie weet, dalk is jou storie die volgende wat vertel word! Die tema “Wat het jy in jou hand?” is geïnspireer deur die idee dat elke persoon reeds iets waardevols het – of dit nou talent, hulpbronne of unieke omstandighede is. Hierdie reeks fokus op individue en gemeenskappe wat kreatief en vindingryk gebruik maak van wat hulle tot hul beskikking het om ‘n positiewe impak te maak op hul geloofsgemeenskappe en die breër samelewing. Die tema sluit aan by die Bybelse beginsel van rentmeesterskap en die gebruik van jou gawes tot eer van God. Die reeks van 13 episodes word aangebied deur Lizelle de Bruin. Voorgestelde episodes vir opvolg:
- Grootte Kerk, Kaapstad Intergeloofsgesprek en hoe verskillende gelowe saamwerk in die stad.
- Twee Torings, Bloemfontein Die kerk se fokus op behoeftes in die middestad en gemeenskapsbediening.
- Nasionale Kruger Wildtuin gemeente Die rol van stopers in die geloofsgemeenskap en hoe hulle betrokke is.
- VGKSA, St Helenabaai ‘n Vissersgemeenskap se geloofsprojekte en samewerking.
- Bikers Kerk Hoe hierdie unieke geloofsgemeenskap mekaar ondersteun en diens doen.
- Maranatha Gemeente ‘n Voorbeeld van hoe kreatiewe projekte die geloofsgemeenskap bou.
- Katolieke Kerk, Natal Onderhoud met Ds. Jacobus de Bruin oor hul gemeenskapswerk.
- Die NG Kerk in Matjiesfontein (Wes-Kaap) Hierdie Victoriaanse styl kerk in die klein historiese dorpie wys hoe ‘n klein gemeente erfenis kan gebruik om besoekers te trek en die geskiedenis te bewaar.
- Die Boomkerk (Magoebaskloof, Limpopo) ‘n Kerk wat geheel en al uit lewende bome bestaan, simboliseer die eenheid tussen natuur en geloof.
- Die St. Augustine’s Katedraal (Port Elizabeth, Oos-Kaap) Bekend vir sy gemeenskapswerk, wys hierdie kerk hoe groter geloofsgemeenskappe hul hulpbronne kan gebruik vir sosiale impak.
Verskeie nuwe reekse begin op 1 April op RSG.
Op 6 April skop twee nuwe Sondagmusiekreekse en ‘n geloofsreeks af:
Dr. Ananja van der Westhuizen vertel tien dinge wat jy van tuberkulose moet weet.
Hoe word klank veroorsaak of geskep, en wat presies vind plaas op daardie oomblik wanneer dit voortgebring word. Wat veroorsaak dat klank hard of sag is? Moet ‘n huis met asbesplafonne en -mure gesloop word, of kan verf die gevare onder beheer hou?
Igna Klynsmith praat oor die regsposisie van watervloei van ‘n hoërliggende eiedom na ‘n laerliggende eiendom. Dit gebeur dikwels dat bejaardes weens ouderdom en ‘n gebrek aan vermoë ‘n sogenaamde volmag aan ‘n kind gee om hulle sake te bestuur. Is dit die regte roete om te volg? Spesialisgas Elsa Kruger-Willemse bespreek volmagte en demensie.