RSG NOU


Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds
2024-02-01
Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds, is 'n inisiatief van beide die NG Kerk in Noord-Kaapland en Agri Noord-Kaap. Die hele Suid Afrika weet al dat die Noord-Kaap en omliggende streke die afgelope paar jaar geteister is deur 'n verskeidenheid natuurrampe, veral die uitmergelende droogte, sprinkaanplae en verwoestende veldbrande en nou onlangs die ongekende verwoestende haelstorm tussen Britstown en Strydenburg. Hierdie rampe het veral en is steeds besig om ons voltydse boere en kleiner landelike gemeenskappe te knou.
Die gebied wat ter sprake is, is geweldig groot en sluit die ou Noord-Kaap Provinsie en die nuwe Noord-Kaap provinsie in. Dit sluit dus landboegebiede wat in die huidige Noordwes Provinsie vanaf Mafikeng, oor Stella en Vryburg tot teen Botswanna val tesame met die huidige Noord-Kaap, in.
Die Kerk in Noord-Kaapland tesame met Agri Noord-Kaap organiseer vanjaar weer ’n Camino wat as fondsinsameling vir hierdie Rampfonds dien. Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Camino skop Aprilmaand af met ’n Victoria-Wes Camino vanaf 6-12 April 2024. Enige iemand kan hande vat en betrokke raak deur in te skryf en die 139 km Camino saam te stap en as Ambassadeur in ons op te tree. Inskrywings kan gedoen word op die webwerf van Tankwa Camino by https://www.tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino
Virtuele Stap
Verder nooi ons Kerke, Skole, Besighede, Aftreeoorde, Sportklubs, individue en soveel meer uit om deel te wees van die Virtuele Stappers gemeenskap. Stap saam, of jy nou in Brakpan, Kaapstad of Duitsland bly. Almal is welkom om saam te stap, of selfs met ’n fiets of rolstoel te ry - op jou plaas, om jou Kerk, skool of sommer net in die straat af. Enige persoon kan deel raak van hierdie inisiatief om sodoende fondse in te samel vir rampe in die Noord-Kaap. Daar gaan vanjaar ’n groep fietsryers die Cape Town Cycle Tour, meer bekend as die Argus, as Ambassadeurs vir die Rampfonds ry. Enige persoon kan gedurende die jaar enige geleentheid waaraan hulle gaan deelneem, gebruik om as Ambassadeur vir die Rampfonds op te tree. Virtuele stappers en Ambassadeurs kan registreer by https://rednplaas.org.za Tree op as ’n Ambassadeur en vra vriende en familie om jou te borg vir elke kilometer wat jy stap, draf, roei of fietsry. So kan jy saam ’n verskil maak.