Luister weer na roerende drama ‘Voor ek Vergeet’

Luister Donderdagaand net na 20:00 na die roerende drama Voor ek vergeet. Voor ek vergeet is geskryf deur  Karen Marx en vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Die regisseur is Christelle Webb-Joubert.

Amanda Strydom en Hannes van Wyk het destyds die rolle vertolk in die verhoogproduksie. Donderdagaand word die stemme van Dawid Minnaar, Nadia Valvekens en Eddie de Jager ook gehoor.

Die storie

Hendrien moet skuif van haar woonstel, na ‘n kamer in die aftree-oord waar sy bly. Sy is gediagnoseer met vroeë tekens van dimensie.

Daarby het haar pragkind, haar talentvolle seun Johan, se kanker teruggekeer.

Hierdie is ‘n storie van oud word, afskaal, twyfel, verlies en vergeet.

DIE AKTEURS

HENDRIEN Amanda Strydom
JOHAN Hannes van Wyk
LOUISE Nadia Valvekens
DS. SMIT Dawid Minnaar
PIETER Eddie de Jager

TEGNIESE SPAN: Thato Maphoroma en Frik Wallis

Die akteurs en regisseur. Voor is Amanda Strydom. Agter is Eddie de Jager, Dawid Minnaar, Hannes van Wyk, Christelle Webb-Joubert en Nadia Valvekens.

Die idee van Hannes van Wyk

Hannes en Eddie

Die hele idee wat aanleiding gegee het tot die teks, Voor ek vergeet, het alles by Hannes van Wyk begin.

Voor ek Vergeet was vir my ‘n hartsprojek en het al begin in 2011, – 12 jaar gelede, vertel Hannes. Ek wou graag ‘n toneelstuk doen oor ‘n ma en haar seun. Deels omdat ek en my eie ma, Mariet van Wyk, so ‘n wonderlike verhouding gehad het. Natuurlik was die toneelstuk fiksie, maar tog is daar ook baie raakpunte.

Ek het vir Karen Marx (van der Merwe) gekry om die teks te skryf en ter voorbereiding daarvan het ek vir haar bladsye en bladsye notas gestuur oor wat ek wil hê in die toneelstuk moet wees. Ek en Karen het mekaar goed leer ken toe sy ‘n skrywer by Egoli was en ek het groot respek vir haar skryfwerk.

Eers nadat ek die teks gekry het, het ek en Theresa du Preez (wat saam met my vervaardig het) in alle erns begin kyk na wie die ma gaan speel. Ons het baie mense oorweeg, onder andere Christine Basson en Marga van Rooyen, maar ons het saam besluit dat daar nie ‘n beter “ma” kon wees vir die spesifieke toneelstuk as Amanda Strydom nie. Ek en Amanda het regtig ongelooflik lekker saam gewerk.

Ek het ook besluit dat ek graag saam met ‘n regisseur wil werk wat ek ken, vertrou en volgens my een van die beste regisseurs in die land is, Gert van Niekerk.

Ek en Amanda was bevoorreg om reg oor  Suid- Afrika te gespeel het met Voor ek Vergeet en, kan met dankbaarheid sê voor vol sale en teaters.

Ná die toneelstuk is ons genader om ‘n filmweergawe te skiet vir Kyknet, wat met groot sukses in 2021 uitgesaai is.

En nou… Voor ek Vergeet die radiodrama waaroor ons baie opgewonde is. Dit voel vir ons of ons nou die sirkel voltooi het..Verhoogproduksie, film en nou radio.

Ek moet eerlik wees dat die radiodrama vir my die moeilikste was. Natuurlik omdat die storie, wat nogal moeilik is om te vertel, met net jou stem vertel word. Niks dekor of ligte ens nie. Ek dink egter Eben Cruywagen het dit baie goed reggekry met die verwerking van Karen Marx se teks. Dit was ook heerlik  om die bekwame radio-regisseur Christelle Webb-Joubert aan die stuur van sake te kon hê.

Ek glo en vertrou dat julle Voor ek Vergeet die radiodrama sal geniet.

Die verwerking vir radio – Eben Cruywagen vertel van sy uitdagings

Om enige teks, hetsy prosa, verhoogdrama of van die elektroniese visuele media vir die radio te verwerk, is in die eerste plek ʼn reuse voorreg en in die tweede plek ʼn uitdaging - want daar is geen resep wat alle genres oor dieselfde kam skeer nie.

Die oorspronklike verhoogteks van Voor ek vergeet deur Karen Marx, het twee karakters gehad: Die sewentigjarige HENDRIEN in die vroeë stadium van demensie en haar veertigjarige seun, JOHAN, ʼn Hodgkinsiekte-lyer.

Om die drama radiomatig te kry, moes daar noodwendig nie net aan die oorspronklike dialoog vir die verhoog verander word nie, daar moes ook dialoog geskep word om die visuele ervaring van die teaterganger te ondervang. Daarbenewens moes nuwe karakters en nuwe tonele geskep word sodat die luisteraar deurentyd betrokke kan bly en empatie met die karakters kan hê.

Gelukkig verskaf die verhoogteks genoeg ammunisie wat die name van bykomende karakters betref, soos LOUISE, Johan se gewese verloofde, DOMINEE SMIT, die Botha-gesin se jarelange leraar, en PIETER, Johan se jonger broer wat na Australië uitgewyk het.

Vir elkeen van hierdie karakters moes daar natuurlik ook nuwe tonele geskep word sodat hulle met die nuwe gegewe van die radiodrama geïntegreer kon word.

Met elke verwerking van sulke sterk materiaal, is my enigste wens dat ek reg sal laat geskied aan die skepping van die dramaturg, die karakters en die intrige. 

Amanda Strydom vertel meer van Hendrien

Ek was 23 jaar laas in ‘n toneelstuk toe Hannes van Wyk my in 2011 genader het om die rol van Hendrien Botha te vertolk in Voor ek vergeet. Toe ek die stuk lees, het ek besef ek sal absoluut simpel wees om dié kans te laat verbygaan. Dit is só ‘n wonderlike karakter om te speel, Hendrien is ‘n volronde, lieflike vrou met ‘n heerlike sin vir humor, ‘n passie vir musiek, diep gelowig en haar seun is haar hele lewe.

Wanneer sy met demensie gediagnoseer word, klou sy verbete aan die lewe vas, eers deur ontkenning, dan aanvaarding. Sy moet haar bekende wêreldjie verruil vir ‘n kamer en dit gooi haar lewe deurmekaar. Daar is soveel fasette aan hierdie karakter en ek het elkeen probeer uitlig. Die liefde loop soos ‘n goue draad in haar wese en selfs in die magteloosheid van haar situasie, veg sy teen die onvermydelike.

Wat ‘n eer was dit om ná soveel jaar hierdie karakter weer teenoor Hannes van Wyk te vertolk. Die pluspunt was die karakters wat Eben Cruywagen bygeskryf het om die storie verder in te kleur. Dit was baie spesiaal dat Eben getrou gebly het aan die oorspronklike toneelteks. Regisseur Christelle Webb-Joubert het ons gekoester tydens die bykans vyf ure se opname en daar was tye dat ons trane vlak gelê het. Dit is ‘n storie van verlies, hoop, maar bowenal liefde. Dankie dat ek weer deel kon wees daarvan.

Regisseursnotas deur Christelle Webb-Joubert

In die vervaardigerstoele.

Hoe sê mens nee vir die geleentheid om met so ‘n wonderlike teks te werk, en saam met Amanda Strydom en Hannnes van Wyk. Die storie en teks is so deel van Hannes en Amanda, wat my werk baie makliker gemaak het.

Ek kon egter besluit wie die ander drie akteurs is om die rolle van Louise, Ds. Smit en Pieter te vertolk. Nadia Valvekens, Dawid Minnaar en Eddie de jager was so knap, dat dit voorgekomhet asof hulle nog altyd deel was van die storie.

Ek het vir die eerste keer in ons nuwe ateljee opgeneem en ook vir die eerste keer op ‘n ander manier. Waar ek voorheen alles (dialoog, byklanke en musiek) op een slag opgeneem het, het ek die keer net die dialoog opneem, met enkele byklanke. Ek kon dus fokus op spel.

Met die dag van opname het Thato Maphoroma my tegnies bygestaan, maar dit was Frik Wallis wat na die tyd gesorg het dat elke voëltjie, voetstap en musieknoot op die regte plek is.

Dit bly ‘n lekkerte om stories te kan vertel met klank. Mag jy aangeraak word deur die een!

 

Nuwe kinderboek oor wêreld se godsdienste

Daar is ’n nuwe kinderboek wat die meeste van die wêreld se godsdienste en geloofsfilosofieë van A tot Z belig en verduidelik, sonder om ‘n waardeoordeel uit te spreek.

Prof Lizette Rabe

Professor Lizette Rabe se jongste kinderboek, STERRETJIEKIND NALEDI EN ONS EERSTE STORIES, het pas verskyn. Dit word beskryf as ‘n lees-, dink-, knip-, teken- en plakboek vir kinders en hulle oumas (en oupas, en ma’s en pa’s, en onderwysers) oor die wêreld se godsdienste en oortuigings, en hoe om die wêreld ʼn beter plek vir al haar kinders te maak.

Lizette is die voormalige hoof van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Wat sê Internasionale reg oor gewapende konflik?

Internasionale militêre reg en konflik – Deel 1

Dis vandag die veertigste dag van die Israel-Hamas oorlog, en beelde van verwoesting en die hoë dodetal laat baie mense geskok. Israel word beskuldig van oorlogsmisdade, volksmoord en buitensporige vergeldingsaanvalle. Internasionale militêre reg kan baie kompleks wees, daarom kan ‘n mens nie elke Jan Rap en sy maat op sosiale media, of selfs politici, goedsmoeds glo nie. Om ons te help verstaan, sluit professor Michelle Nel, ‘n visedekaan van die Fakutlteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch by ons aan, in die eerste van twee gesprekke hieroor. Michelle is onder meer ‘n spesialis in internasionale reg oor gewapende konflik.

Internasionale militêre reg en konflik – Deel 2

Die Israelese weermag het gister met ‘n militêre operasie in die al-Shifa hospitaal-kompleks in Gasa-stad begin. Israel beweer Hamas gebruik die hospitaal as ‘n bevel- en beheerkwartier vir die voortdurende aanvalle op Israel, sedert die 7de Oktober vanjaar. Israel word wyd veroordeel vir sy swaar bombardering en grondoffensief in Gasa. Talle regeringsleiers, onder andere president Cyril Ramaphosa, beskuldig Israel van oorlogsmisdade en volksmoord. Ons sit die gesprek van gister, oor internasionale wetgewing oor gewapende konflik voort, en ons praat weer met professor Michelle Nel, ‘n visedekaan van die fakulteit krygskunde aan die universiteit Stellenbosch.

Hoekom is jagluiperds nou uiters bedreig?

‘n Jagluiperd

Hulle is grasieus en die vinnigste dier op aarde. Tog is jagluiperds ook een van die mees bedreigde groot-kat-spesies op aarde, met net ‘n paar duisend wat oor is. Die rede vir hul bedreigde status is velerlei en kan eeue terug gevoer word.

Die De Wildt jagluiperdsentrum, deesdae bekend as die Ann van Dyk-jagluiperdsentrum, is al sedert 1971 besig met die bewaring van, en navorsing oor, jagluiperds.

Die algemene bestuurder van die sentrum, Petro van Eeden, sluit vanoggned by ons aan.

Word jy gereeld woedend kwaad?

Word jy maklik kwaad? Só kwaad dat ander mense jou gereeld vra hoekom jy buite beheer raak?

Vind meer uit oor afwisselende eksplosiewe versteuring. Dis wanneer ‘n persoon se woede gediagnoseer kan word as ‘n versteuring. Wat staan die individu en geliefdes te doen?

Kan ‘n skokgolf lig maak?

Kan ‘n skokgolf lig maak wat deur die liggrens kan breek?

Wie leef langer: diere in gevangenis of wilde diere?

Hoekom is dit dat ons nooit dooie voëltjies sien rondlê nie?

Hoeveel sterre is daar in die hemelruim?

Die Melkweg oor Sutherland

Hoeveel sterre is daar in die hemelruim, en hoe word hulle getel? Dis ‘n tergende vraag want die hemelruim is net so groot soos ons kennisvlak strek. Die span praat oor die maniere hoe die berekening gedoen word.

Daar is ook inligting oor suurstof wat op ons warm buurplaneet, Venus, waargeneem is.

Vind uit oor epidurale, pynblokke en bewuste sedasie

Hoe werk narkose? En wat monitor ‘n narkositeur alles daar aan due koppunt van die pasiënt in die teater?

Deel 1: Algemene narkose

Het jy geweet ’n narkosemiddel is eintlik ’n pakket van middels wat jou aan die slaap maak, jou pyn verlig en jou spiere verslap sodat jy nie kan beweeg tydens ’n delikate operasie nie? Wat monitor die narkotiseur voortdurend by die kop van die pasiënt? Hoe weet die narkotiseur om meer of minder narkosemiddels toe te dien? En kan die pasiënt dalk wakker word op die teatertafel?

Dr Theodi Lombard, narkotiseur van Durbanville, vertel meer.

Deel 2: Bewuste sedasie, epidurale, spinale en senublokke.

Wat is bewuste sedasie? Hoe verskil ’n epidurale verdowing van ’n spinale verdowing? Wanneer is ’n pynblok voldoende?

Met ‘n epidurale narkose word die naald in die epidurale spasie geplaas en die pynstillende middel ingespuit.

Luister weer na die donker komedie ‘Lank Lewe die Keiser’

Luister Donderdagaand net ná 20:00 na die donker komedie Lank Lewe die Keiser uit die pen van Maria Vos.

‘n Groepie akteurs repeteer aan ‘n moderne weergawe van Shakespeare se Julius Caesar. Die veeleisende regisseur is baie ongewild en wanneer daar boonop ‘n kragonderbreking is, begin die poppe dans.

Die dialoog is spitsvondig, geloofwaardig en die tempo vinnig. Die spelers is almal vertroud met die teater-wêreld en kon hulle dus maklik met die karakters vereenselwig. Die drama kan beslryf word as ‘n donker komedie.

Die spelers is Hannah Borthwick, Wessel Pretorius, Anrich Herbst, Roeline Daneel, Marion Holm, Adriaan Havenga en Ira Blankenberg.

Die regisseur is Joanie Combrink.

 

Die akteurs, reigisseurs met Cassi Lowers, die klankregisseur.
Die span akteurs en regisseur Voor van links na regs is Hannah Borthwick en Wessel Pretorius. Agter van links na regs is Joanie Combrink (regisseur), Anrich Herbst, Roeline Daneel, Marion Holm, Ira Blankenberg en Adriaan Havenga.

‘n Kykie agter die skerms tydens die opnames in die drama-ateljee in Seepunt: