In Donderdag 14 Desember se radioteater op RSG word ‘n tydsreis onderneem in Nols D’Amus. Dié drama deur Hendie Grobbelaar, ‘n finalis in die 2022 radiodramaskryfkompetisie, word om 20:00 op RSG uitgesaai.
Die storie
Die hoofkarakter, Nols, beland ná ‘n aardbewing in die Vallei van Tussen-In, en in ‘n ander dekade! Die inwoners van die Vallei praat nog van langspeelplate, kasette en fakse – want hulle leef in 1989. Nols kom van 1999, waar daar darem al selfone en CD’s , en ‘n ander regering is.
Die inwoners van die Vallei is ‘n interessante klompie bymekaar. Daar is die nie-amptelike burgemeester, die weduwee Esme De Koker, wat hard aan die man-soek is. Sy is ook die mede-eienaar van ‘n diamantmyn. Die ánder eienaar is ‘n restauranteienaar op die dorp, Kristoff, wat nie veel ooghare vir Esme het nie. Die polisieman, Janneman Plaatjies is bekommerd dat hy nie genoeg geld gespaar het vir sy aftrede nie, en om op perde te verwed lyk vir hom na ‘n manier om sy inkomste aan te vul. Santjie Venter is ‘n eksentrieke, maar geliefde inwoner. Sy verdraai name en uitdrukkings, en noem die waarheid by die naam. Sy som Nols ook vinnig op vir die swendelaar wat hy is, terwyl die ander inwoners om die bos gelei word met beloftes van rykdom as hulle maar net vir Nols toevertrou met hulle spaargeld of diamante. Wanneer Nols dan die Vallei verlaat om met die inwoners se geld te gaan woeker, ontmoet hy vir Pieterse, ‘n vragmotorbestuurder, in 2020.
Dit is ‘n lighartige storie wat so ‘n bietjie spot met mense se naïwiteit (en gierigheid) wanneer dit kom by beloftes van vinnige rykdom as hulle net in ‘n spesifieke skema of plan van ‘n gladdemond-glyjakkals belê.
Die spelers
Die spelers wat gehoor kan word is Pietie Beyers, Sulette Thompson, Anton Schmidt, Johny Klein, Elzabe Zietsman en Claudia Jones.
Die regisseur is Ina Strydom.
Uit die pen van die skrywer, Hendie Grobbelaar
Hendie Grobbelaar
Waaroor gaan Nols D’Amus?
Nols is ‘n swendelaar en smokkelaar wat net voor die aanvang van die nuwe millenium, verdwaal in die Swartberge. Na ‘n aardbewing by die bek van ‘n poort, word hy vasgekeer in ‘n dorpie wat 10 jaar in die verlede leef. Nols besluit om die situasie tot sy voordeel te gebruik. Hy draai die sjarmekraan oop om die burgemeester, die skelm restauranteienaar en die polisiehoof uit hul geld en diamante te swendel. Net die bejaarde Santjie sien deur sy planne want sy leef ook ‘n geheim. Deur ‘n gelukskoot en nog ‘n aardbewing, reis Nols terug na die hede waar hy deur ‘n wêreldwyse maar bloedjong vroulike trokdrywer opgelaai word. Sy ontnugter Nols met ‘n ontstellende waarheid…!
Waar kom ek aan die storie?
Ek is dankbaar dat my vierde radiodrama wat vir die RSG skryfkompetisie geskryf is, ook uitgesaai gaan word! Soos baie van my storie idees, het hierdie een ook sy oorsprong in ‘n droom, waar ek een nag my man wakkergeskud het met die dringende versoek dat hy die naam Nols D’Amus, moet onthou. Dit was ook sy eerste woorde aan my toe hy sy oë oopmaak die volgende oggend!
Ek kon nie die droom onthou nie, maar die naam het vasgesteek. Omdat dit my herinner het aan Nostradamus, het ek met die idee van tydspringers en voorspellings begin om ‘n storie te skryf.
Kan ’n bystaander ’n lewe red op ’n ongelukstoneel? Wat is die belangrikste: dat die beseerde kan asemhaal of dat sy hart klop? Hoe besluit ’n dokter watter traumabeseerde om eerste te behandel? Wat beteken dit om pasiënte as blou, rooi, geel of groen te klassifiseer? Wat beteken dit as iemand ‘uitbloei’? En watter skade rig ’n koeël aan?
Op Maandag 11 Desember kan luisteraars inskakel vir ‘n splinternuwe middagvervolgverhaal, Kom tyd, kom moeilikheid, waar geraamtes op ongeleë tye uit die kas tuimel. Die skrywer is Joe Kleinhans.
Welkom op Seebult. Die naaste dorp is Dolfynbaai. Almal ken almal op die dorp. Soms is dit goed, maar merendeels nie. Feit van die saak is privaatheid is die skaarste kommoditeit op die dorp. En natuurlik het almal op die dorp goeie en minder goeie eienskappe. Die minder goeie eienskappe kry spoedig stertjies by wat dit nie altyd maklik maak om te weet wat presies die waarheid is nie. Maar die inwoners van Seebult het oor die algemeen maar ‘n geraamte in die kas. En geraamtes het die neiging op die onmoontlikste tyd uit die kas te val.
Die geboorte van ‘n storie
Joe Kleinhans
Die storie is gebore toe die skrywer die volgende berig lees:
Die skip Johanna het op haar sesde reis op 8 Junie 1682 naby Kaap Agulhas gesink. Kaptein Robert Brown was in bevel. Tien mense het omgekom maar 104 het die Kaap gehaal. Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie Goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel het van die goud van die wrak laat afhaal.
In 1982 haal ses man onder leiding van Charles Shapiro, Gavin Clackworthy, Erik Lombard, Bert Kutzer, André Hartman en Tommy Botha 23000 muntstukke van die skip en tonne silwer, maar vind geen goud nie.
In Kom Tyd, kom Moeilikheid, kom luisteraars agter daar was egter iemand voor Charles Shapiro en kie by die Johanna. Diegene se besoek het met verloop van tyd ‘n toenemende en dramatiese uitwerking op die lewens van ‘n handvol inwoners van Seebult.
Die giftige Gertrude Germishuizen (Susanne Beyers) verloor eers haar man Karel toe hy aan ‘n oordosis pille sterf. Maar sy steur haar nie aan die giftonge wat wonder hoe Karel regtig gesterf het nie, want Karel laat vir haar miljoene na. Kort daarna sterf haar enigste kind en dogter Magteld tragies. Sy is destyds tot Gertrude se skok en afgryse, met die myner Louis Lategan (Anrich Herbst) getroud. Louis kom vestig hom in Seebult met behulp van die miljoene rande se polisgeld wat uitbetaal.
“Kruie-oase” is ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid op Seebult. Ná Sarel van Wyk se afsterwe staan die plek vir twee maande toe. Sy erfgenaam en dogter, Johanna van Wyk daag saam met Chanel de Villiers op om die plek se deure weer oop te maak. Hulle kry oud-sersant Lappies Grobler om die kruie-tuin te bewerk en somtyds in die winkel te help as Johanna en Chanel besig is om kliënte in kruie-olie te bad of met kruie-olies te masseer. “Kruie-oase” se opgehoopte skuld is voor Sarel se afsterwe betaal met ‘n polis wat oorlede Karel Germishuizen aan Sarel nagelaat het. Daaroor spuug Gertrude vuur. Chanel de Villiers kom met haar ma se dagboek onder ‘n donker wolk op Seebult aan. Lappies en Gertrude is vir redes uit die verlede, soos olie en water, hulle meng nie.
Gertrude se groot vertroueling is die suksesvolle en geslepe Neville Nomis (Waldemar Schultz), eienaar van die eiendomsagentskap Nomis Eiendomsagentskap. Neville is verloof aan die uroloog, dr Janice Jennings (Frieda van den Heever). Dokters Jennings en Celeste Celliers (Zenobia Kloppers) bedryf die Jancel Laboratorium waar hulle mediese navorsing doen. Dr Celeste hou haar voltyds daarmee besig. Fondse bly ‘n kopseer en Neville Nomis wil altyd help. Dr Janice vertrou egter nie Neville se sakekonneksies nie.
‘n Moord op Seebult krap ‘n nes van obskure sakeverbintenisse oop en geraamtes tuimel met reëlmaat uit verskillende kaste.
JOE KLEINHANS
Regisseursnota
Amor Tredoux
Kom Tyd, kom Moeilikheid is Joe Kleynhans se nuwe middagvervolgverhaal wat in Seebult, ‘n welvarende kusdorp afspeel. Die dorp is gevestig deur die bouers en boesemvriende, Karel Germishuizen en Sarel van Wyk, wat albei, ten tyde van die verhaal, reeds oorlede is.
Het Karel se weduwee hom in die ewigheid ingehelp? Waar het Karel se skatte vandaan gekom? Hoekom is Sarel se vervreemde dogter sy enigste erfgenaam? Hierdie is ‘n verhaal vol tergende geheime, en soos die waarheid mettertyd onthul word, blyk dit dat almal maar ‘n paar geraamtes in die kas het.
“’n Strand van hoop word een van wanhoop; optelgoed word bittergoed” sê Joe van sy verhaal. En wanneer die wrokke uit die verlede na vore kom begin die poppe dans…
Ek het hier ‘n geleentheid gesien om die spanning te onderstreep met lekker ‘vibey’ musiek-brûe tussen tonele. As die spelers in die ateljee wag vir die rooi lig om weg te val met ‘n toneel en hulle dans, moet jy weet jy’t reg gekies!
Ek hoop julle geniet Joe se storie soveel soos ons dit geniet het om daaraan te werk.
Lekker luister!
Amor Tredoux
Ons het ‘n vraag aan die akteurs in die onderskeie rolle gestel
Hannah Borthwick
Hannah, wat is ‘n heilsame kruiebad vir jou, en waarom?
Ek is baie lief vir ‘n letterlike kruiebad! Saam met Joni Mitchell se musiekalbum “Blue”, en ‘n glas goeie rooiwyn, is dit vir my ‘n heerlike “treat”. My Ma is baie lief om te ontspan deur te bad, so ek en my sussie vind altyd troos in ‘n lekker warm bad!
Simoné Benjamin
Simoné, wat beteken ‘oase’ vir jou?
Die betekenis van “oase” vir my is dat daar wel lig is aan die einde van die donker tonnel. Al gaan jy deur moeilike tye en struikelblokke, moet ʼn mens moed hou en aanhou, maak nie saak hoe “droog” dit raak nie, want deur dit sal jy aan die einde jou “oase” bereik. Jy sal ʼn plek van vreugde, vrede en kalmte bereik. En wanneer ek deur daardie donker tonnel kom en die lig aan die einde bereik, my “oase”, sien ek myself lekker agteroor lê met ʼn glasie bubbly en ek sal sê “Cheers op myself! I made it!”
Zenobia Kloppers
Zenobia Kloppers = Celeste Cilliers
Zenobia, sien jy aspekte van jouself in die karakter wat jy speel? Wat? Wat nie?
Daar is seker maar altyd iets van ‘n karakter in elke akteur, want jy vorm immers die karakter vanuit jouself. So, ja, die karakter is passievol oor haar werk en baie gedrewe om die beste te wees in wat sy doen. Ek sien aspekte van myself daarin raak. Maar waar die karakter enigiets sal doen om haar drome te bewaarheid, neem ek die gevolge van my besluite baie versigtig in ag.
Frieda van den Heever
Frieda van den Heever = Dr Janice Jennings
Frieda, watse mediese navorsing sou jy befonds en hoekom?
Navorsing oor Alzheimers. Dis in my gene en ek doen alles in my vermoë om dit so lank as moontlik uit te stel. Ek is soms effe obsessief daaroor: ek draf en oefen gereeld en doen daagliks sonder uitsondering my Wordle en Wortel oefeninge soos ek opstaan in die oggend. Ek probeer feite memoriseer en word dikwels op die skouer geklop oor my fantastiese geheue, maar skrik soms as ek die karsleutel in die yskas kry of my tekkies in die oond …
Richard van der Westhuizen
Richard, wat is ‘n skat wat jy al ontdek het? Brei bietjie uit?
Watse skat het ek al ontdek?
Onlangs loop ek in die reën daar naby Nigramoep. Ek hardloop al onder ‘n reënboog tot by sy punt en daar op die grond lê ‘n bol beesmis. Ek tel dit op en by die huis plant ek ‘n jong boom daarin. Die boompie groei nou nog, baie stadig. Ek trek toe Kaap toe. Nou ontdek ek elke 5 uur of so ‘n nuwe skat.
Susanne Beyers
Susanne Beyers = Gertrude Germishuizen
Susanne, wat sou jy doen met jou geërfde miljoene?
Ek sal ‘n betroubare adviseur kry om my te help om dit te bestuur. En nooit anders as besigheidsklas te vlieg nie! En baie geld gee vir die diere.
Charlton George
Charlton: Wat is jou idee van ‘n goeie joernalis? Hoekom?
ʼn Goeie joernalis is nie bevrees om die dominante storielyn te bevraagteken nie. Dit kan ʼn mens met magtige state en korporasies in konflik bring. Waar leuens die waarheid is, is goeie joernaliste leuenaars.
Lochner de Kock
Lochner, dink jy sou ‘n goeie skattejagter wees? Hoekom/ hoekom nie?
Al die skatjies wat oor my lewenspad geloop het kan maar weer kom loop.
Ek is ʼn losjagter…
Anrich HerbstWaldi Schultz
Waldemar Schultz = Neville Nomis
Anrich Herbst = Louis Lategan
Luisteraars kan ook uitsien na die volgende boekvoorlesings in die nabye toekoms:
Reën vir Stofvlei deur Katherine Graham, voorgelees deur Ruda Landma. Vlug deur Wilna Adriaanse, gelees deur Joanie Combrink.
‘n Egskeidingsprokureur wat ‘n boek skryf oor hoe om egskeidings te vermy, klink so ietwat teenstrydig! Tog is dit presies wat Bertus Preller gedoen het. Bertus het al honderde skeisake hanteer en sy boek, The Unexpected counsellor het pas verskyn. Bertus sluit vanoggend by ons aan.
Die Nasionale gesondheidsversekering-wetsontwerp, die NGV, is gisteraand in die nasionale raad van provinsies goedgekeur en sal nou na president Cyril Ramaphosa gaan om bekragtig te word. Die beraamde koste van die NGV kan tot soveel as R460 miljard per jaar beloop – geld wat die regering nie het nie. Byna al wat ekonoom en gesondheidsorgkenner is, het gewaarsku dat die NGV nie kan werk nie, en veral nie in ‘n korrupsiedeurtrekte land soos Suid-Afrika nie.
Ons gesels vanoggend met dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteurgeneraal verantwoordelik vir die NGV in die departement van gesondheid.
Die musieklegende, Ronnie Samaai, is gisteroggend in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Hy was ‘n viool maestro wat op talle kunsorganisasies se direksies gedien het – onder meer die KKNK en die Kaapstadse Filharmoniese orkes Ronnie was ‘n groot gees wat talle mense, veral uit voorheen benadeelde groepe, se lewens beïnvloed het, met sy musiekonderig en medemenslikheid wat uit hom gestraal het.
In Oktober 2003, toe RSG se oggendprogram Forum genoem was, het kollega Anthea Fredericks met Ronnie hierdie spesiale onderhoud gehad.
Lise Swart vind meer uitvind oor die teenstrydige diagnose van Nomofobie. Die vrees om van jou selfoon geskei te word. Klink dit vir jou dalk bekend? Raak jy angstig wanneer jou selfoon nie aan jou sy is nie?
Stefan Lotz van die Suid-Afrikaanse ruimte agentskap is elke tweede Sondag van die maand ‘n gas op Sterre en Planete. Hy praat Sondagaand oor ‘n baie aktiewe son. Aurora’s kom nie net op aarde voor nie maar ook by ander planete sê Stefan.
Luister Donderdagaand net ná agtuur na Die Belofte deur Paula Hartzenberg. Dit vertel die storie van twee sussies wat hul ma se geheime ontrafel.
Die regisseur is Anrich Herbst, met tegniese versorging deur Cassi Lowers.
Karakters
Akteur
Jana
Maria Vos
Alet
Mia van der Merwe
Jong Elsa
Emma Nelson
Rien
Karleine Herbst
Gideon
André Weideman
Mara
Tinarie van Wyk Loots
Volwasse Elsa
Gelees deur Mara
Die storie
Alet ly aan ’n traumatiese toestand wat klaarblyklik onbewustelik van haar ma af op haar oorgedra is. Met haar ma se heengaan, is dit Alet se ouer suster, Jana, wat haarself met ’n belofte verbind tot die taak om uit te vind wat presies in hul ma se lewe gebeur het wat tot haar toestand kon gelei het.
Toe iemand eendag by hulle deur kom aanklop, kry die soektog momentum, maar onverwagse hindernisse kom terselfdertyd oor haar pad. Uiteindelik beland Jana by ’n punt waar sy ’n riskante besluit oor haar eie lewe moet neem voordat die waarheid moontlik tydens ’n bonatuurlike reis aan die lig kan kom.
Vanwaar die inspirasie vir drama – die skrywer, Paula Hartzenberg, vertel
Ek stel belang in mense en hulle diepste gevoelens, wense en begeertes, die dryfvere wat die kern vorm van ’n drama. Die regte inspirasie om ’n teks te skryf is egter nie altyd so voor die hand liggend nie.
’n Mens moet tyd maak om te gaan sit en dink en soms ’n paar ure tyd verloor in die proses. Ek kry dan ’n vae idee van ’n karakter saam met wie ek ’n pad kan loop.
Iets onverwags sit ’n reeks gebeurtenisse aan die gang, en so kom die sterktes en swakhede van die karakter in spel.
Vir my kom inspirasie uit die hutspot van my herinneringe, gesigte van mense, leeswerk en aandoeninge wat met verloop van tyd inmekaar versmelt geraak het.
Die akteurs en regisseurDie akteurs en Cassi Lowers, wat verantwoordelik is vir die tegniese versorging.