Deel 4: ‘Dokters hoef nie hulle tasse te pak nie: NGV-plan berus op té groot denkfoute’

Wat behels die Nasionale Gesondheidsversekeringswet wat bloot op die handtekening van Cyril Ramaphosa wag? Hoekom is dokters en ekonome baie bekommerd oor die implikasies van die wet? Gaan dit dan nie maklike toegang tot baie goeie gesondheidsdienste lewer nie?

Dr Caroline Corbett van die SAHPC

Deel 1

3 Jan 2024: In die eerste in ‘n reeks oor die implikasies van die wetgewing gesels Mari Hudson met Dr Caroline Corbett,  woordvoerder van die SA Health Practitrioners Collaboration wat sowat 25000 dokters en ander gesondheidslui verteenwoordig.
Luister hier na Deel 1 in die reeks:

 

Deel 2

10 Jan 2024: In deel 2 gesels Marí Hudson verder met Dr Caroline Corbett,  woordvoerder van die SA Health Practitrioners Collaboration wat sowat 25000 dokters en ander gesondheidslui verteenwoordig.

SAHPC- PETITION TO THE PRESIDENT TO THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA ON THE NHI BILL (18.12.2023) (final) 2

Prof Alex van den Heever, gesondheidsekonoom by Wits se bestuurskool

Prof Alex van den Heever, gesondheidsekonoom by Wits se bestuurskool, bespreek enkele ontstellende feite oor die Regering se beoogde NGV-plan

 

 

Deel 3

As enigeen dink NGV gaan gesondheidsdienste vir staatspasiënte verbeter, en dat dit ekonomies haalbaar is en sin maak, wag daar ontnugtering op dié mens, blyk uit deel 3.

Die opstellers van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet het geen finansiële kosteberekenings gedoen nie, want dan sou hulle self die publiek moes meedeel dat die plan onbekostigbaar is. Die NGV-fonds word bloot geskep vir plundering. Voorts is die wet op verskeie maniere ongrondwetlik. Hofsake sal volg die oomblik nadat Pres Ramaphosa die wet onderteken. In die derde episode in ‘n reeks oor die NGV, verduidelik ‘n gesondheidsekonoom hierdie stellings aan Mari Hudson.

Deel 4: Gesondheid 24 Januarie 2024

Die opstellers van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet maak beloftes wat nie eens oor 30 jaar kan realiseer nie. Hulle maak ‘n groot denkfout as hulle dink dat private pasiënte se mediese fondspremies bloot in die NGV-fonds inbetaal kan word, of dat belasting verhoog kan word om dit te finansier, of dat huidige private pasiënte die reg tot private gesondheidsorg en private finansiering deur mediese fondse ontneem kan word, of dat staatspasiënte beter dienste sal kry.

In die vierde en laaste episode in die reeks oor die NGV, verduidelik ‘n gesondheidsekonoom hierdie stellings aan Mari Hudson.

Luister ook:

BTW gaan byna verdubbel as NGV bekragtig word

Die uitvoerende hoof van Discovery, Adrian Gore, het onlangs by ‘n nuuskonferensie berekeninge gemaak oor wat die koste van die Nasionale Gesondheidsversekering, die NGV, sal wees indien dit deur president Cyril Ramaphosa bekragtig word.
Gore sê egter Discovery is nie gekant teen die NGV nie, maar dink die rergering moet private mediesefondse en hospitale toelaat om saam met die NGV te bestaan. Indien die NGV wet word, sal dit mediese fondse byna laat verdwyn. Ons gesels vanoggend hieroor met Tim Cohen, redakteur van Business Maverick, sakeafdeling van die Daily Maverick.

Dr Olive Shisana oor die private sektor

Dr Olive Shisana se teenstand teen private hospitale in die Daily Maverick: https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2023-12-12-nhi-accurate-information-understanding-potential-impact-essential/

Ignatius: Regisseur, fotograaf, sakeman, gesinsman

Jy hoor sy stem baie kortliks op Driesestig, want eintlik is Ignatius Vlok die man agter die skerms wat sorg vir Driesestig se inhoud en dat alles vlot verloop. Wie is Ignatius as hy nie regisseur van Driesestig is nie en hoe het hy by radio beland?

Ignatius het op ‘n vrugteplaas op Riebeek-Kasteel grootgeword.

“As jy egter so na die familie op hul plase kyk, dan besef jy ek is meer van ‘n boer se seun as ‘n boerseun,” vertel hy. Maar hy het wel ‘n bestuurslisensie vir ‘n swaarvoertuig met ‘n sleepwa, dra ‘n kortbroek en het ‘n knipmes in die sak.

Sy pa is een van 9 kinders, so met die jaarlikse familiesaamtrek bekend as Vlok-Kersfees, is gewoonlik om en by ‘n honderd van die Vlokke by mekaar.

Leesgierig

“As kind het ek verskriklik baie gelees. Deesdae moet ek wag vir vakansie voor ek tot stilstand kom, stories soek en met ‘n regte boek kan ontspan. Gelukkig sorg Deon Meyer darem dat daar gewoonlik ‘n nuwe boek op die rak is wat ek vir Kersfees of my verjaarsdag kan kry.” Hy verjaar op 23 Desember, so as die boekgeskenk nie vir sy verjaarsdag opdaag nie, is dit gewoonlik darem twee dae later ‘n Kersgeskenk.

Van kleins-af wil hy ‘sake doen’

Buiten radio-man, is ‘sake doen’ ook in sy bloed. En sommer van kleins-af.  “Van standerd 4 af het ek vir nege jaar ‘n winkel-op-wiele bedryf.”

Ek het in 1997 by Radio Matie begin

Hy was in Hoërskool Paarl Gimnasium en is toe Universiteit van Stellenbosch toe, waar hy media en besigheid bymekaar gebring het. Hy het B.Comm studeer en by die kampusradio begin uitsaai. En getrou in sy aard van sake doen, het hy begin om die radio se advertensies te verkoop en te skep. Hy het ook die studentekoerant se advertensies verkoop en het vir lank Boslife! eposadvertensies na die studente versprei.

Die SA Fruit Journal bedryfstydskrif het bygekom, waar hy steeds die advertensiebestuurder is.

Met die radio as basis was hy ook platejoggie in die dorp se klubs en het boon-op die ander platejoggies vir die klubs organiseer. In dié jare het hy ook as ‘n fotograaf gewerk. Aan die einde van ‘n seisoen se troufoto’s neem, het hy met die ‘trougeld’ graag gaan toer en het 18 lande se stempels in sy paspoort.

Besig om foto’s te neem op Gifberg

Baie van die oorsese uitstappies was meer onder die see. “Ek het baie gescuba en het veral daarvan gehou om saam met haaie te duik.”

“Ek hou van mooi goed en het taamlik kuns versamel vir my mure.

RSG

In 2015 sluit hy by RSG aan as regisseur van Oggend op RSG  met Johan Rademan en Martelize Brink. “Martelize het voorheen  gesê ek en Johan maak dieselfde tipe grappies. Dis seker hoekom ek so lekker by die span kon inskakel. Haidee, Jacqui en Mariska maak die span vol wat van die oggend-gleuf na DrieSestig smiddae geskuif het. Hulle sorg dat mense se stories klank met kleur en geur is.”

Sy gesin

Maar dit is 2016 wat uistaan, want hy is toe getroud met sy groot liefde, Celeste, ‘n kerngeneeskundige.

Ignatius, Celeste, Luella en klein Celeste op die skoot

“Ons het twee dogtertjies, ‘n 6 -jarige dame en ‘n 3-jarige rabbedoe of in haar woorde, rabbedoeda! Siende dat my werksure meer buigsaam is as dié van my vrou, ry ek skoolkar en hanteer heelwat afdelings van die huishouding.”

Hy hou van rock-musiek. Celeste het op haar dag tjello gespeel vir die nasionale jeugorkes. “Tussen my rock- en haar klassieke musieksmaak is die musiek waarna ons wel by die huis luister dié van Frank Sinatra en Michael Bublé. In my kar is Collective Soul, Maroon 5, Fokofpolisiekar, Greenday, maar in my huis is kiste en kiste cd’s uit my platejoggiedae. Ek luister egter min my musiek. Ek leef met die radio aan en het vir jare al nie TV nie”.

“Ek maak rerig lekker Thaise groenkerrie. Net jammer my gesin eet nie kos met ‘n bietjie brand nie. Ek hou van braai en as daar Paul Slagter-wors van Riebeek-Wes op my kole is, is ek tevrede met die lewe. Ek hou van tyd in ons tuin en is veral passievol oor my clivias.”

Martelize skryf as volg oor haar kollega Ignatius:

“Ons loop al ‘n lank pad saam, maar die pad strek nog verder terug as 2015 en RSG. Ons was saam op skool by Paarl Gimnasium. Jare later het ons paaie weer gekruis by Radio Matie.”

“Daar is nie ‘n bron of spreker wat hy nie kan opspoor nie.”

 

 

 

 

 

 

10e Oppiwater Kunstefees van 12–17 Feb op groot MSC Splendida

RSG en Lefra Produksies se tiende Oppiwater Kunstefees word van 12 – 17 Februarie 2024 op die MSC Splendida aangebied, wat die grootste skip is wat nog in Suid-Afrikaanse waters gevaar het.

  • Die Oppiwater Kunstefees vaar vanaf Durban na Mosambiek se mooie Pomene en Portugese eilande.
  • Kajuitbesprekings kan gedoen word by www.oppiwater.co.za of 011 844 6073.
  • Feeskaartjiebesprekings kan gedoen word by www.LTickets.co.za
  • Vir meer inligting, skakel Monica Booysen by 011 815 3000 of epos aan admin@lefra.com.
  • Meer inligting ook beskikbaar by www.oppiwater.co.za
MSC Splendida

Die Feesdirekteur van die Oppiwater Kunstefees, Frans Swart, sê hy is baie opgewonde oor die kunste-aanbod van vanjaar se Kunstefees.  “Dit is ons tiende jaar en daarom het ons groot gegaan met meer as 47 verskillende teaterproduksies en aanbiedings wat wissel van drama, komedie, musiek, sang, wynproe en selfs ‘n kunsaanbieding.

“Omdat dit ons tiende jaar is, het ons ook besluit om die vaart bietjie langer as gewoonlik te maak – 6 dae en 5 nagte, want ons gaste het deur die jare versoek dat ons die Oppiwater Kunstefees ‘n bietjie langer maak, want daar is soveel om te doen en te sien dat die tyd net te min is,” sê Swart.

Daar is twee feesproduksies wat spesiaal vir die Oppiwater Kunstefees geskep is.

“Ons het eerstens daarin geslaag om vir Koos Kombuis en Valiant Swart in ‘n eksklusiewe teatervertoning op een een verhoog aan te bied, KOOS EN VALIANT.  Dan is daar ook die opwindende produksie waarin ons hulde bring aan die legendariese Gé Korsten, GĖ SING – HOOR MY LIED,” se Swart.  “Ek is ook baie opgewonde oor twee unieke musiekproduksies wat slegs op die Oppiwater te sien sal wees naamlik KITAARKONINGS met Heinrich Pelser, Illimar Neitsz en JC Myburgh.  Pianiste Coenraad Rall en Toni Bentel span ook kragte saam in ‘n nuwe produksie, 20 VINGERS, 176 NOTE EXTRAVAGANZA.”

Die Oppiwater Kunstefees bied ook heelwat spesialiteitsproduksies aan.  DIE WYN, DIE VROU, DIE LIED is ‘n lekker wynproe wat deur Van Loveren Wyne aangebied word met Johan Rademan wat die mooiste poësie voordra en Christo Snyman sing wonderlike luisterliedjies akoesties op net die ghitaar.

Hannelie Swart en Martelize Brink

Hannelie Swart bied elke dag SKILDER EN WYN OPPIWATER aan.  Dit is ‘n drie-ure sessie waar gaste hulle eie skildery verf.  Hannelie sê dis ‘n kunsterapiesessie waarin gaste die geleentheid het om hulle “self” te ontdek en net lekker te ontspan.  “Gaste wat SKILDER EN WYN wil bywoon, het geen kunstalent of kunsopleiding nodig nie,” sê Swart.  “Ons gaan ook nie vir almal een prentjie gee om te skilder nie.  Nee elke deelnemer gaan sy eie persoonlike en unieke kunswerk maak.” Alle kunsmateriaal soos doeke, verf en kwasse word ook voorsien.

Die Oppiwater Kunstefees bied ook die unieke ONTMOET DIE KUNSTENAARS waar gaste elke middag om 17:00 die verskillende kunstenaars kan ontmoet, lekker kan gesels en foto’s kan neem.

Valentynsdag op 14 Februarie, val ook gedurende die Oppiwater Kunstefees en daar word verskeie Valentynskonserte op hierdie spesiale dag van die liefde aangebied soos die volgende:

  • Valentynskonsert met Jak de Priester en Helene Bester
  • Valentynspartytjie met Die Broers
  • Any Dream Will Do – My Pad met Webber met André Schwartz
  • Valentynsdans met Henndie du Bruyn en die Kitaarkêrels

Die program

Die volledige program verskyn by www.oppiwater.co.za of mense kan deur die program blaai by: http://tinyurl.com/oppiprog  Feeskaartjies kan bespreek word by www.LTickets.co.za

Conrad Kock en sy marionette

Maandag, 12 Februarie 2024

  • Wegvaartpartytjie – Dek (Gratis)
  • Koos en Valiant
  • Nic Stevens Sing Bryan Adams
  • Conrad Koch & Chester Missing Live!
Amanda en André in Brel en Piaf

Dinsdag, 13 Februarie 2024

  • Brel en Piaf
  • Die Wyn, Die Vrou, Die Lied
  • Dinner for One/ Sopper vir Een
  • Groet die Grotman 2
  • Helene Bester Sing Nana Mouskouri
  • Huldeblyk aan Groep 2
  • Jak de Priester – Hartkamer
  • Ontmoet die Kunstenaars
  • Rolex met ‘n K
  • Routrip
  • Skilder en Wyn Oppiwater

Woensdag, 14 Februarie 2024 (Valentynsdag)

  • Louis Loock Sing Bekende Arias uit die Operas en Musiekblyspele
  • Valentynskonsert met Jak de Priester en Helene Bester
  • Tussen die Lang Grasse
  • Valentynspartytjie met Die Broers
  • Any Dream Will Do – My Pad met Webber met André Schwartz
  • Goue Oues met Alwyn Oberholster
  • Valentynsdans met Hennie du Bruyn en die Kitaarkêrels
  • Koos Kombuis
  • Skilder en Wyn Oppiwater
  • My Vrou se Man se Vrou
  • Ontmoet die Kunstenaars
Femme Fatale met Elsabe Zietsman

Donderdag, 15 Februarie 2024

  • Weer Stout op Versoek met Derrich Gardner
  • Christo en Kobus – Die Trein na Margate en ander treffers
  • Die Wyn, Die Vrou, Die Lied
  • Skilder en Wyn Oppiwater
  • Femme is Fatale met Elzabe Zietsman
  • Ontmoet die Kunstenaars
  • RSG Radiodrama met regisseur, Johan Rademan
  • State of the Heart met Amanda Strydom
  • Stiltetyd
  • Valiant Swart
  • Poespas met Neels Clasen

Vrydag, 16 Februarie 2024

  • Kitaarkonings
  • Bobby van Jaarsveld
  • Conrad Koch & Chester Missing Live!
  • Gé Sing – Hoor my Lied
  • Hans Steek die Rubicon Oor
  • In die Spore van Jesus
  • Ontmoet die Kunstenaars
  • Skilder en Wyn Oppiwater
  • Pieter Smith – Van Stukkie van der Merwe tot Willemiena van Gezina
  • 20 Vingers, 176 Note Extravaganza

Pas op vir sonkrag-kansvatters

Hoe betroubaar is die blaastoets vir alkohol?

Veronique van Heyningen en Igna Klynsmith bespreek onder meer die betroubaarheid van blaasapparaat wat gebruik word vir die meet van die alkohol-konsentrasie in ‘n persoon se bloed.

Spesialisgas Est-Marie McCallahan verduidelik wat die nuwe wysigings op die skoolwet behels

 

Gerco praat oor sy 6 jr as Al-Kaïda-gevangene en sy onderhandelaar vertel meer

Gift of the Givers se gyselaar-onderhandelaar vertel van sy pogings

Mohammed Yahya Dicko

Vir ses jaar lank het hy lang dele sy lewe in Johannesburg op ys gesit om die Al-Kaïda-gevangene, Gerco van Deventer, te bevry deur onderhandeling. Mohammed Yahya Dicko is ‘n ingenieur van Mali. wat al 20 jaar lank in Suid-Afrika bly.

Nadat hy Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers op die radio gehoor het, het hy sy dienste as ‘n onderhandelaar aangebied om gyselaars in die onherbergsame Sahara-woestyn te bevry.

2024 se 1e Dokumentêre seisoen begin op 4 Januarie

Ons eerste dokumentêre seisoen van 2024 skop op 4 Januarie af.

Luisteraars kan uitsien na ‘n groot verskeidenheid onderwerpe oor die klanke van Distrik Ses, Wuppertal, digter T.T. Cloete wat in 2024 ‘n 100 jaar oud sou word, tot ‘n blik op die land drie dekades van demokrasie.

Uitsaaidatum Dokunentêr Programmaker
4-Jan Vir 290 jaar in die sandput Marize de Klerk
11-Jan Kontant op die kant Renaldo Schwarp
18-Jan Die slagting in die see Martelize Brink
25-Jan Vyf vlugvoetige voetbôllers Heindrich Wyngaard
1-Feb As ’n man knak Elsje van Jaarsveld
8-Feb God die digter (T.T. Cloete – 100 jaar) Argief
15-Feb Die padkaart in jou drome Flip Loots
22-Feb Sò klink Distrik Ses Haidee Muller
29 Feb Verenig in stem Ina Strydom
7-Mar Wuppertal se langpad Johan Rademan
14-Mar Leon – die lewe van ’n onnutsige onnie Ettienne Ludick
21-Mar Drie dekades van demokrasie – deel 1 Jody Hendricks
28-Mar Drie dekades van demokrasie – deel 2 Jody Hendricks

 

Pretorianer se rillerdebuut maak skoonskip in skryfkompetisie

Lena Nel (42), ’n Pretorianer wat bladuitleg vir ’n farmaseutiese maatskappy doen, is die wenner van RSG se radiodramaskryfkompetisie met haar debuut-radiodrama, Tweegesig.

Die skryfkompetisie in samewerking met die ATKV is in 2023 vir die 27ste keer aangebied.

Nel ontvang R50 000 vir haar spioenasieriller wat handel oor die hoof van ‘n tegnologiemaatskappy wat tydens ‘n fietsrit geskiet en beroof word. Die twee mense wat hom te hulp snel, word saam met hom meegesleur in ‘n wipwaentjierit propvol kinkels.

“My grootste droom was nog altyd om te kan skryf,” sê Nel. “Ek lees minimum vier boeke ‘n maand en nadat ek die kortlys gehaal het, beplan ek om aan te hou skryf.”

Sy sê sy gaan met haar prysgeld vir haar ‘n “ordentlike rekenaar en honderde notaboekies” koop.

Haar wendrama Tweegesig
Tweegesig is ‘n spioenasieriller wat handel oor die hoof van ‘n tegnologiemaatskappy wat tydens ‘n fietsrit geskiet en beroof word. Die twee mense wat hom te hulp snel, word saam met hom meegesleur in ‘n wipwaentjierit propvol kinkels. Die beoordelaars het gesê dis ‘n puik spanningsdrama met slim en weldeurdagte dialoog. Dit is beskryf as “heerlike radioteater van die boonste rak”.

Die naaswenner is Anneli du Preez (35), ‘n voltydse skrywer van Johannesburg, wat R25 000 ontvang vir Verraad.

Meer oor Verraad
Hierdie debuutdrama handel oor ‘n gay getroude paar wat na sewe jaar ‘n slaggat in hul huwelik tref. Jaco wil skei, want hy reken hy is nie gay nie. Of altans, hy was nooit gay nie. Terwyl die twee koppe stamp kom die ware feite aan die lig…

Madeleine Venter (46), ‘n gekwalifiseerde grondslagfase-onderwyseres van Krugersdorp, ontvang die derde prys en prysgeld van R15 000 vir Taaispul. Venter was in 2022 ‘n finalis in die RSG radiodrama-skryfkompetisie met haar teks, Tyd vir ‘n wonderwerk.

Meer oor Taaispul
Haar drama handel oor ‘n bejaarde man, Dirk, wat vir Katrien van Help-‘n-Senior vra om hom met “sleurwerkies” te help. Sy eintlike doel is om sy eerste liefde, wat deesdae getroud is, se hart te wen. En Katrien moet nie net kos bedien nie, maar die liefdesvure aanblaas.

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is deur Almé Swart (29) ingepalm met haar tweede radiodrama, Blommekroon vir Belinda. Swart het voorheen die Jong Skrywersprys gewen vir haar debuut-radiodrama, Mot, wat ook op RSG uitgesaai is. Sy ontvang ook R15 000.

Meer oor Blommerkoon vir Belinda
Belinda Gouws kom sit elke middag in haar seun, Barend, se koffiehuis. ‘n Nuwe kelnerin, Nadia, vermoed dat daar ‘n groot skroef los is en dat Belinda nooit herstel het na ‘n groot traumatiese gebeurtenis in haar verlede nie. Wanneer sy een middag ‘n blommekroon vir Belinda vleg, hoor Nadia wat werklik lank, lank gelede gebeur het.

Die merieteprys, gekies deur die beoordelaars uit die finaliste wat nie die vier topposisies beklee het nie, gaan aan Anene Loots (64), ‘n onderwyseres wat ‘n aflospos by Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad beklee. Loots wen R10 000 vir haar debuut-radiodrama, Shirley se skuld.

Meer oor Shirley se skuld
Dit is ‘n prettige komedie wat in ‘n aftree-oord afspeel waar Rina en Ella die vonke laat spat. Rina wen ‘n reis na Griekeland, maar Ella reken dis ‘n verneukspul. Intussen het Ella ‘n afspraak met ‘n man wat sy op Tinder ontmoet het, gemaak. Dalk is hulle albei besig om in ‘n slenterstrik te trap. Die uiteinde is vol komiese draaie!

Al die wendramas word vanaf April in RSG se eerste Radioteater-seisoen van 2024 uitgesaai.

RSG en die ATKV het verlede jaar altesame 141 inskrywings ontvang. Na die eerste ronde van beoordeling is 22 finalistekste gekies wat mentorskap ontvang het, voordat die laaste ronde van beoordeling plaasgevind het.

Kobus Burger, RSG se programbestuurder, sê die toename in inskrywings toon dat al hoe meer en veral jonger skrywers die krag en kreatiwiteit van radiodrama omarm. “Radiodrama is so ‘n opwindende medium en die genres en temas wat die skrywers in hul tekste oopgeskryf het, bevestig dat radiodrama steeds nie grense het nie. En die hoeveelheid debute is ook ‘n aanduiding dat radiodrama ‘n toeganklike medium is wat skrywers van alle ouderdomme aangryp. Dit gaan ‘n fees wees om na die wendramas te luister.”

Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV toon grenslose kreatiwiteit van die deelnemers ‘n wengees. “Om deel te wees van die RSG/ATKV Radiodrama-skryfkompetisie gaan nie net oor die erkenning nie, dit gaan oor die reis. Elke inskrywing was ons ontvang het, is ʼn bewys van die deelnemers se vasberadenheid en harde werk. Dankie aan RSG vir die wonderlike geleentheid om aspirantskrywers se talente te ontdek en te bevorder. Die ATKV is trots op dié vennootskap. Baie geluk aan die wenners!”