Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds

Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds, is ‘n inisiatief van beide die NG Kerk in Noord-Kaapland en Agri Noord-Kaap. Die hele Suid Afrika weet al dat die Noord-Kaap en omliggende streke die afgelope paar jaar geteister is deur ‘n verskeidenheid natuurrampe, veral die uitmergelende droogte, sprinkaanplae en verwoestende veldbrande en nou onlangs die ongekende verwoestende haelstorm tussen Britstown en Strydenburg. Hierdie rampe het veral en is steeds besig om ons voltydse boere en kleiner landelike gemeenskappe te knou.

Die gebied wat ter sprake is, is geweldig groot en sluit die ou Noord-Kaap Provinsie en die nuwe Noord-Kaap provinsie in. Dit sluit dus landboegebiede wat in die huidige Noordwes Provinsie vanaf Mafikeng, oor Stella en Vryburg tot teen Botswanna val tesame met die huidige Noord-Kaap, in.

Die Kerk in Noord-Kaapland tesame met Agri Noord-Kaap organiseer vanjaar weer ’n Camino wat as fondsinsameling vir hierdie Rampfonds dien. Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Camino skop Aprilmaand af met ’n Victoria-Wes Camino vanaf 6-12 April 2024. Enige iemand kan hande vat en betrokke raak deur in te skryf en die 139 km Camino saam te stap en as Ambassadeur in ons op te tree. Inskrywings kan gedoen word op die webwerf van Tankwa Camino by https://www.tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino

Virtuele Stap

Verder nooi ons Kerke, Skole, Besighede, Aftreeoorde, Sportklubs, individue en soveel meer uit om deel te wees van die Virtuele Stappers gemeenskap. Stap saam, of jy nou in Brakpan, Kaapstad of Duitsland bly. Almal is welkom om saam te stap, of selfs met ’n fiets of rolstoel te ry – op jou plaas, om jou Kerk, skool of sommer net in  die straat af. Enige persoon kan deel raak van hierdie inisiatief om sodoende fondse in te samel vir rampe in die Noord-Kaap. Daar gaan vanjaar ’n groep fietsryers die Cape Town Cycle Tour, meer bekend as die Argus, as Ambassadeurs vir die Rampfonds ry. Enige persoon kan gedurende die jaar enige geleentheid waaraan hulle gaan deelneem, gebruik om as Ambassadeur vir die Rampfonds op te tree. Virtuele stappers en Ambassadeurs kan registreer by https://rednplaas.org.za Tree op as ’n Ambassadeur en vra vriende en familie om jou te borg vir elke kilometer wat jy stap, draf, roei of fietsry. So kan jy saam ’n verskil maak.

 Hoekom kan jy met vrymoedigheid betrokke raak by hierdie projek?

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Noord-Kaapland het in samewerking met Agri Noord-Kaap, sedert 2019 ‘n bewese rekord van hulpverlening in hierdie streek. Sowat R13.1 miljoen is ingesamel en R13.1 miljoen is versprei vir humanitêre en pastorale verligting aan die droogtegeteisterde gemeenskappe in die Noord-Kaap. Geen fondse is teruggehou vir administratiewe fooie nie. Daar is seker gemaak dat elke sent wat ingekom het, uitbetaal is. Die grootste deel van die finansiele hulp was aangewend om boere te help deur hul kinders se toekoms te verseker deurdat die leerders se skoolfondse en studiegeld betaal is. As organisasies het ons die fokus verbreed om juis ook voorsiening te maak vir boere en gemeenskappe wat deur verskeie natuurrampe getref word en nie net droogte nie.

Waarom betrokke raak by Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds?

Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds is ’n inisiatief gebore uit die nood van ons wêreld om gemeenskappe en boere in die Noord-Kaapland gebied te ondersteun deur die verskeidenheid van rampe wat ons gebied jaarliks tref. Hierdie rampe het ’n groot impak op voedselsekerheid in Suid-Afrika.  Die huidige regeringsbeleid is ongelukkig dat min of geen hulp deur die fiskus aan hierdie rampgeteisterde gebiede verleen word nie. Soos met verskillende vlakke van ons samelewing, aanvaar gewone Suid-Afrikaners verantwoordelikheid om vir mekaar om te gee tot voordeel van almal.

Daarom nooi ons almal uit:  Maak ’n verskil deur ’n tree te gee!

Gaan lees gerus meer oor die projek by https://rednplaas.org.za en besluit daar hoe jy wil betrokke wees. Al die nodige kontakbesonderhede van die organiseerders is ook op die webblad beskikbaar.

Ds. Deon van der Berg (NGK Stella) en Mev. Janine Byleveld (AgriNK)

 

 

Ontkleedanse en ‘n vroulike pous in RSG se potgooiskatkis

Glenda Kemp nou.

Wat het geword van Glenda Kemp?
Wat het geword van die omstrede ontkleedanseres Glenda Kemp, wat eens so eg Suid-Afrikaans was soos sonskyn, Chevrolet, biltong en braaivleis? Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het weer die RSG potgooiskatkis se deksel gaan lig en deel ’n paar lekkerluister hoogtepunte.

Glenda Kemp en haar luislang, Oupa, is in die jare 70 en 80 verskeie kere in hegtenis geneem en van openbare onsedelikheid aangekla. Tog het die Sondagkoerant Rapport haar as “Nuusmaker van die Jaar” gewys. Maar wat het van Glenda geword?

Daar is gerugte dat sy in Engeland woon, maar Mariska Spoormaker het haar hier in Suid-Afrika opgespoor.

Luister hier – https://omny.fm/shows/driesestig-1/glenda-kemp-dans-nou-net-vir-die-here

NP v W Louw

Vers en klank, elke Dinsdagaand om 21:20 op RSG, is ’n gewilde voorleesprogram met gedigte deur verskeie van Afrikaans se woordsmede. Tien jaar gelede is dié program aan toonsettings van Afrikaanse gedigte gewy. Daar was verse van Breyten Breytenbach, Petra Muller, N.P. van Wyk Louw en Ingrid Jonker gesing deur kunstenaars soos Laurika Rauch, Randall Wicomb, Amanda Strydom, Laurinda Hofmeyr, Lize Beekman en Herman van den Berg.

Luister hier –

https://omny.fm/shows/vers-en-klank/1-jan-2013

Pous Johanna II
As deel van RSG Kunstefees is Esther Vilar se omstrede toneelstuk Pous Johanna II uitgesaai met die geliefde aktrise Jana Cilliers in die titelrol.

Dit is die jaar 2033 en ‘n Amerikaner – die dogter van ‘n prostituut wat in ‘n krotbuurt in Los Angeles gewoon het – word as pous verkies. Egskeiding, geboortebeperking en homoseksualiteit is toelaatbaar en Katolieke priesters mag trou. Daar is geen dogma, doodsondes of gebede nie. Al die Katolieke kerk se geld is onder die armes verdeel. En nou lewer Pous Johanna II haar inhuldigingstoespraak op televisie, al word sy kort-kort deur advertensies onderbreek.

Die aktrise Jana Cilliers lewer ‘n kragtoer in hierdie omstrede solostuk oor geloof en godsdiens in die moderne wêreld. Ook met Sulette Thompson in die rolverdeling.

Luister hier – https://omny.fm/shows/rsg-kunstefees/pous-johanna-ii-deur-esther-vilar

Tossie Lochner

Tossie Lochner

Die geliefde omroeper Tossie Lochner en haar oproepe uit Italië is sinoniem met Afrikaanse radio. Ter viering van die 85 Jaar van Afrikaanse radio het sy met Pieter van den Berg gesels oor die dae toe sy as sportverslaggewer gewerk het.

Luister hier – https://omny.fm/shows/85-jaar-van-afrikaanse-radio/tossie-lochner-dink-terug-aan-haar-dae-as-sportver

Wen-dokumentêr oor Breyten Breytenbach
Johan Rademan is met ’n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy hoorbeeld oor die digter Breyten Breytenbach.

Breyten Breytenbach in Matjiesfontein agter die klavier.

Johan Rademan het die fokus verplaas van sy skrywerskap, waarvoor hy alombekend is in Suid-Afrika, na sy skilderkuns, drama en musikaliteit. In ‘n eksklusiewe onderhoud met Breyten brei hy uit oor sy ondergewaardeerde sy in Suid-Afrika, en hoe dit eintlik ‘n onontbeerlike komponent vorm van sy kunstenaarskap. Renaissance-kunstenaars het dikwels as filosowe, digters, beeldhouers, skilders en skrywers alle genres oorskry. Breytenbach is een van die enkele Suid-Afrikaners wat so ‘n Renaissance-kunstenaar is. Luister na die kunsinnige sagte Breyten en die geharde rebel en heethoof, saamgesmelt in een program wat toegelig word met vriende en kenners, wat die genres saam met hom verken het.

Luister hier na Breyten Breytenbach – ‘n Ander skakering –  https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/breyten-breytenbach-n-ander-skakering-deur-johan-r

Lees en luister ook meer oor Johan Rademan en die dokumentêr:
https://www.rsgplus.org/johan-rademan-deur-akademie-vereer/

 

 

 

 

 

SA is 2e grootste uitvoerder van sitrus in wêreld

Hannes de Waal

RSG Landbou fokus op die plaaslike sitrusbedryf.

Suid-Afrika is die tweede grootste uitvoerder van sitrus in die wêreld en die verwagting is dat daar tussen 170 en 180 miljoen kartonne sitrus vanjaar uitgevoer sal word.

Ons gesels met Hannes de Waal van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika hieroor.

Wolveilings het verlede week hervat en Heinrich Victor vertel ons watter pryse behaal is.

 

Probleme by Kaapstad-hawe belemmer steeds vrugte-uitvoere

Die venstertydperk vir vrugte-uitvoere raak minder, maar infrakstruktuur en logistieke probleme by die Kaapstad-hawe, bly ‘n uitdaging. Wolfe Braude van Agbiz gesels oor die verliese wat reeds gely is, die gevolg van vertragings asook die gesprekke tussen die regering, Agbiz en lede van Fruit South Africa om ‘n oplossing vir dié uitdagings te vind.
Daar is soos altyd ook veilingsnuus, soos Wayside Brahmane se veiling op 10 Februarie naby Francistown in Botswana.

Waar kom die woord ‘sjebeen’ vandaan?

Waar kom die woord, sjebeen, vandaan? Wat is kontaminasie as dit met woorde of taal verband hou?  Is die woorde, brutaal en wreed, sinonieme?  Alet Cloete en Gerda Odendaal van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beantwoord hierdie en ander taalnavrae.

‘Wat gaan van my gestremde kind word as ek dood is?’

Ben Greyling vertel van sy vrese as ‘n ouer van ‘n intellektueel gestremde dogter. Hy praat oor die kwesbaarheid van al die betrokkenes, en die kommer wat by ouers bestaan oor wat van hulle kinders sal word wanneer hulle nie meer daar is nie.
Andries Maree, die president van die SA Hengel Konfederasie, en Sekretaris van die SA Oewerhengel Federasie, gesels oor hengel as ‘n sport vir persone met gestremdhede. Hulle maak voorsiening vir persone met verstandelike sowel as siggestremdhede. Anta de Korte hengel in die Noord-Kaap, en het al haar federasiekleure verwerf. Sy vertel van haar hengelsportloopbaan.

Luister weer: ‘n Dokumentêr oor uitbranding

As ‘n man knak word op 1 Februarie 2024 om 20:00 op RSG uitgesaai.

In dié dokumentêr As ‘n Man Knak ondersoek Elsje van Jaarsveld die verskynsel, uitbranding, wat al hoe meer in ons samelewing voorkom.

Elsje van Jaarsveld met sielkundige Du Toit Genis en lewensafrigter dr. Jan Niemand.

Hierdie program bring ‘n verskeidenheid stemme na vore, insluitend dié van sielkundiges, lewensafrigters, maatskaplike beraders en individue wat uit persoonlike ervaring praat.

Jacques Botes

‘n Aangrypende persoonlike getuienis kom van Jacques Botes, ‘n maatskaplike berader wat nie net daagliks berading doen vir mense wat hiermee worstel nie, maar ook self ‘n seisoen van uitbranding ná die Covid-pandemie beleef het. Sy eerlike verhaal illustreer die alomteenwoordige aard van hierdie uitdagende werklikheid.

Die dokumentêr bevat ook insigte van akademici en kundiges wat ‘n wetenskaplike perspektief bied.

Mode-ontwerper Thomas Thomson by die bruid Chantelle Scheepetrs wat sy uitrusting dra.

Profesionele persone, van ingenieurs tot mode-ontwerpers, deel hulle eie ervaring, wat wys dat hierdie probleem nie tot ‘n spesifieke beroepsgroep beperk is nie, maar ‘n universele uitdaging in verskeie lewensterreine.

As ‘n Man Knak bied ‘n indiepte verkenning na uitbranding en dien as ‘n belangrike bydrae tot bewusmaking van hierdie toenemende probleem in ons samelewing. Die program is ‘n roepstem vir empatie en ondersteuning vir diegene wat met uitbranding worstel, en dit moedig ook ‘n gesprek aan oor hoe ons as samelewing hiermee kan omgaan.

 

 

 

SAPD ‘grootste verskaffer van onwettige vuurwapens’

Sedert die oud-polisiekolonel, Christiaan Prinsloo, in 2016 gevonnis is nadat hy meer as 2000 vuurwapens aan veral bendes op die Kaapse vlakte verkoop het, het dié tipe misdaad nie afgeneem nie.

Volgens die burgerregte-organisasie, Action Society, het dit eerder toegeneem, en is die polisie die grootste verskaffer van vuurwapens aan misdadigers. Die Vryheidsfront Plus sê in in ‘n onlangse verklaring, 357 vuurwapens wat as bewysstukke deur die polisie bewaar moes word, is weg.

Ons praat hieroor met Ian Cameron van Action Society.

Vind meer uit oor ‘Erfdeel: Versamelde werke van Koos du Plessis’