Luister weer na ‘n profiel-dokumentêr oor TT Cloete

TT Cloete

Luister op 8 Februarie na ‘n argief-dokumentêr oor die digter TT Cloete. Die dokumentêre God die digter, is ‘n profiel oor TT Cloete

Die akademikus, digter en literator, TT Cloete sou vanjaar 100 jaar oud wees.

Ter viering hiervan saai RSG op 8 Februarie weer die huldiging uit wat kort voor Cloete se 90ste verjaarsdag opgeneem is.

Tien jaar gelede, enkele dae voor die bekroonde digter en akademikus, TT Cloete, se 90e verjaarsdag, het hy met Ina Strydom gepraat oor sy lewe en werk; oor sy digterskap en ouderdom, en oor genade. Dié heruitsending van die profieldokumentêr is as huldiging van dié merkwaardige mens, wat vanjaar 100 jaar oud sou wees.

In die program vertel hy vir Ina Strydom oor sy kinder- en jeugjare, sy studies en loopbaan as akademikus. Hy vertel hoe polio, wat hy in sy tweede jaar as student opgedoen het, sy lewe verander het.

Hy vertel van sy belangstelling in rigtings soos die kosmologie, die teologie die wysbegeerte en die letterkunde.

Cloete praat ook met groot deernis oor sy oorlede vrou Anna, en hoe sy hom geïnspireer het om sy gedigte te publiseer.

Hy sê hy het sy hele lewe probeer uitvind hoe God dink.  Hy praat ook oor ouderdom, en oor genade.

 

 

 

Vergrote goedaardige prostaat met stoom-behandeling verklein

Koning Charles III is onlangs gediagnoseer met ‘n goedaardige vergrote prostaat en hy is behandel om sy prostaat te verklein. Hy is ook gediagnoseer met ‘n tipe kanker, maar nie prostaatkanker nie.

’n Tegniek om ’n vergrote goedaardige prostaat te verklein sonder ’n operasie, word ook in Suid-Afrika gedoen. Mari Hudson gesels met ’n uroloog om vas te stel hoe ’n vergrote, goedaardige prostaat met stoom verklein kan word.

 

RSG se nuwe middagvervolgverhaal het pas begin

As die Hadida Roep is vanaf 5 Maart die nuwe middagvervolgverhaal op RSG.

 Net ná tien-uur die aand van Maandag, 29 September 1969, weerklank die angs-roepe van ‘n hadida in ‘n Bolandse dorpie en oomblikke later skud die aarde. Nog nooit het so sterk seismiese golf deur die aardkors hier geskeur nie. Vroeër dieselfde middag was daar reeds ’n effense trilling toe moeder natuur die inwoners van die dorpie wou waarsku hulle huise gaan tuimel, die paaie gaan kraak, en die berge gaan brand.

Charles J Fourie

 Dis 2024 – en jy gaan luister na As die Hadida Roep, Charles J. Fourie se splinternuwe radio-vervolgverhaal – want sien, die afgelope paar weke het die aarde weer lig begin bewe op die dorpie daar in die Boland waar hierdie nuwe middag-vervolgverhaal afspeel.

Kom luister elke middag Maandag tot Vrydag vanaf 5 Maart saam met ons op RSG na die vermaaklike middag-vervolgverhaal geskryf deur die bekroonde dramaturg Charles J. Fourie. Die bekende Denver S. Vraagom hanteer die regie. Die radio-vervolgverhaal spog ook met groot akteurs talent soos June van Merch, Marcel van Heerden, Deon Lotz, Johann Nel, Amor Tredoux, Jarrid Geduld, Pedro Camara, Ronel Geldenhuys, André Samuels, Ansu van der Sluys, Hein Poole en Kay Smith.

 Vir die produksie wat in Kaapstad opgeneem word hanteer Cassi Lowers die akoestiese versorging.

 Dramaturg Charles J. Fourie vertel hy is geïnspireer om die verhaal te skryf na hy self ‘n paar maande op die dorpie daar in die Boland gewoon het, en toe een aand ook so ligte trilling ervaar het – “dit het my laat besef die aarde is regtig net een moerse bruisende en asemhalende gesuis, en toe begin ek die lawwe verhaal neerpen met ‘n metafisiese aanslag – waar ek myself ook sommer die keer getrans-humaniseer het.”

Die storie 
Dominee Hendrik Malan vertel hy kry snags ook visies, wat hy by die kerk kom verkondig.

 Die inwoners voel bang-gepraat, veral die self-aangestelde burgermeester, Wilma Jooste, wat ook meeste van die huise en ander geboue op die dorp besit. Wilma Jooste en haar lewenslange-vriendin, Ester Fortuin, gaan vir almal wys dominee Malan het net lekker kêns geraak.

 Maar ons dominee laat hom nie keer nie en verkondig sy visies oral, en hy bring boonop ‘n aantreklike seismoloog, Ryno Fouché, dorp toe om sake te moniteer. Die dorp se dames soos die aanvallige restaurant eienaar, Ronel Jooste, is reg vir aksie en raak sommer verlief op Ryno.

 Haar vriendin, Jolene Jansen, het planne van haar eie want voor daar weer ‘n aardbewing kom wil sy swanger raak – as sy haar man die polisie-kaptein Lionel Jansen kan kry om in te stem. Die dorp se kunstenaar, Barend du Preez, is geïnspireer deur die aardbewing gerugte en vra die dorp se brandweer-baas, Manie Fortuin, of hy en sy manne vir Barend sal model vir sy nuwe skilderye.

 Manie Fortuin en sy ma Ester en suster Jolene se wêreld word egter deurmekaar geskud as hul pa, Sammy Fortuin, na meer as 20 jaar in die tronk, vrygelaat word en terugkeer dorp toe om versoening met sy kinders te soek. Hy wil ook die geld en juwele wat hy destyds gesteel en wegsteek het in ‘n grot buite die dorp, kom terug eis – as hy self die aardbewing kan oorleef.

 Om die trillende omstandighede van die spul donderende dorpenaars nog verder te skud daag Ronel se pa, Albert Jooste, en sy vreemde en imposante nuwe Gotiese meisie, Marita Marais, ook op. Albert kom sy huise en geboue op die dorp aan sy suster Wilma verkoop, waarna hy en sy Gotiese-liefde beplan om permanent op ‘n strand in Mauritius te gaan woon.

 En net as almal te verstrengel met mekaar se lawwighede raak en al vergeet het ‘n aardbewing dreig op die horison elke keer as hulle die hadida hoor roep – skud die aarde weer, en die keer veel luider en harder as in 1969 – dit lees ‘n volle 8.7 op die Richterskaal!

AS DIE HADIDA ROEP deur Charles J. Fourie – Episode 1

5 Maart 2024

Dominee Malan skok die gemeente wanneer hy tydens die Sondagoggend-diens aankondig daar wag ‘n aardbewing erger as die een in 1969 op hulle. Wilma, die eienaar van ‘n gastehuis op die dorp, besluit om ‘n petisie op te stel om dominee te verhoed om die die dorp se toerisme skade aan te doen.

 

Wat jy moet weet vóór jy na Turkye reis vir chirurgie

Turkye is deesdae ‘n gewilde toevlugsoord vir mediese toeriste, veral vir plastiese en bariatriese chirurgie. Die aanbiedings is ook vir Suid-Afrikaners aanloklik.

Watter vrae moet jy vra voordat jy hierdie chirurgie in die buiteland, en selfs in Suid-Afrika, oorweeg?

Is daar goeie lande en slegte lande betreffende hierdie soorte chirurgie? Hoe vergelyk Suid-Korea se mediese toerisme aanbod met dié van Turkye?

Mari Hudson vind uit.

Hoekom spoeg ‘n spoegslang?

Vind meer oor ‘n besondere sirkelvormige groep sterrestelsels

Die Melkweg is deel van ‘n plaaslike groep, wat weer deel van ‘n tros sterrestelsels is. Matie Hoffman praat oor ‘n besondere sirkelvormige groep stelsels.
Japan se ruimte-agentskap, Jaxa, het onlags ‘n tuig na die maan gestuur. Dit het ongelukkig op sy sy beland. Dit beteken dat die sonpanele nie behoorlik kan funksioneer nie.

Die belangrikheid van ’n baba se eerste 1000 dae

In Suid-Afrika is die moontlikheid dat ‘n baba in sy of haar eerste lewensjaar kan sterf, 17 keer groter as in Noorweë. UNICEF beraam tot 50 000 babasterftes per jaar in Suid-Afrika verhoed kan word deur mediese ingryping.

Ons het onlangs gehoor hoe ma’s in die Oos-Kaap eerder hulle kinders om die lewe bring, as om te sien hoe hulle van honger sterf. Suid-Afrika se babasterftes is 33,6 per 1 000 geboortes. Die Mother and Child Academic Hospital-stigting, Macah, wil al hierdie uitdagings pak. Een van hulle inisiatiewe is die eerste-1000-dae inisiatief.

Ons praat hieroor met professor André Venter, ‘n neuro-ontwikkelingspediater en een van die stigters van die Macah-stigting.

RSG Konsertbederf: Klavierkonserte, operagalas, en kamermusiek

RSG Konsertbederf, ’n samewerkingsprojek met Salon Musiek en die Gauteng Filharmoniese Orkes en geborg deur die Rupert Musiekstigting, strek oor 13 weke – Sondagoggende om 10:00.

Die produksies is voor ’n gehoor opgeneem in M1 by Radio Park, SAUK met die uitsondering van die konsert wat by die 2023 Woordfees opgeneem is.

Willem Vogel het drie projekte gekonseptualiseer vir hierdie Konsertbederf Reeks:  Concertos op Klawers, Opera Gala en ’n Kamermusiek aanbieding.

Na etlike jare van produksies wat aangebied is onder die titel – Klavier Extravaganza – waarin  daar 8 pianiste op 4 klaviere opgetree het, is daar besluit om aan 6 pianiste die kans te bied om saam met ’n orkes op te tree.

Yeon-Min Park, pianis

Concertos op Klawers behels 6 Pianiste en 7 Klavier Concertos van Rachmaninov, Mozart, Bach, Haydn, Mendelssohn, Shostakovich en Chopin. Die buitelandse pianiste is Yeon-Min Park uit Korea en Philipp Richardsen uit Oostenryk. Die SA pianiste is Ben Schoeman, Isaac van der Merwe, Tinus Botha en Peter Cartwright.

Ben Schoeman vertolk self die dubbele rol van solis en dirigent vanaf die klawerbord vir sy twee concertos en vir die oorblywende concertos is Carel Henn op die podium voor die Gauteng Filharmoniese Orkes.

Op 4 en 11 Februarie kan jy luister na die Opera Gala is geborg deur Mzansi en daar is ses soliste.

Twee van die hoofsoliste is ingevoer uit die Tjeggiese Republiek en Suid Korea. Die GFO se jarelange samewerking met hierdie twee ambassades is verreikend en het reeds tot gevolg gehad dat skitterende klassieke kunstenaars SA kon besoek en hul talent aan plaaslike musiekliefhebbers kon vertoon.

Die Ijadu Operakoor van die Operaskool van die Tshwane Universiteit van Tegnologie is aan boord vir hierdie swierige geleentheid  danksy Prof Thami Zungu.

Die opera-soliste is: Lucie Kaňková (sopraan) van die Tjeggiese Republiek, Megan Napier (mezzo) van Suid-Afrika, Kyoungho Kim (tenoor) van Korea, Thomas Mohlamme (bas-bariton) van Suid-Afrika, Ntsekelelo Mkhwanazi (tenoor) van Suid-Afrika, en Gora Dlamini (bariton) van Suid-Afrika.

Die program is saamgestel deur Willem Vogel en bestaan uit welbekende arias, duette en heelwat opwindende groot ensembles uit La Traviata, Verhale van Hoffmann, Don Giovanni, Carmen, Lucia di Lammermoor ensomeer.

Die Kamermusiek projek in ’n volgepakte Endler Saal tydens die 2023 Woordfees het bestaan uit Carl Reinecke se bewerking van Beethoven se Triple Concerto en die Klarinet Kwintet van Mozart.

Die saadjie vir hierdie  konsert is geplant by die Universiteit van Stellenbosch se Ensemble Kompetisie wat in 2022 deur Artmusic.TV opgeneem is. Artistieke Direkteur, Willem Vogel, was aangenaam verras deur die voortreflike jong klassieke instrumentaliste aldaar en het summier besluit om ’n konsert saam te stel met die room van jong Kaapse musici.

Carl Reinecke se bewerking van die Beethoven Triple Concerto met 4 van hierdie briljante musici, het gelyk na ’n uitstekende idee.

Die jong violis Peter Joubert, tjellis, Chris Njapha en pianiste – Christof Joubert en Mikhaila Porter span hier saam om ’n gedugte ensemble te vorm vir hierdie uitvoering van een van Beethoven se mees geliefde werke.

Die ander werk op die program, wat afsonderlik uitgesaai word, is Mozart se Klarinet Kwintet met David Cyster (klarinet), Nicholas Bruiners en Pieter Joubert op die viool, Remi Ludick op die altviool en Chris Njapha op die tjello.

RSG luisteraars oor die hele SA word hartlik uitgenooi om by ons aan te sluit en hierdie Konsertbederf te geniet.

Bekroonde kunstenaars van Suid-Afrika, Korea, die Tsjeggiese Republiek en Oostenryk kan vanaf Januarie 2024 elke Sondagoggend net na 10:00 in RSG Konsertbederf gehoor word.

Luister vanaf Sondag 7 Januarie 2024 elke Sondagoggend net na die 10:00-nuusbulletin na die RSG Konsertbederf met Terrance April as aanbieder.

Phillip Richardsen

Op Sondag 7 Januarie skuif Yeon-Min Park van Korea agter die klawers in vir Rachmaninov se Tweede Klavierconcerto.

Op 14 Januarie volg Phillip Richardsen uit Oostenryk, met Chopin se Eerste Klavierconcerto.

Isaac van der Merwe

Op 21 Januarie volg die jong Suid-Afrikaanse pianis Isaac van der Merwe met Shostakovich se Tweede Klavierconcerto saam met die Gauteng Filharmoniese Orkes met Carel Henn op die podium.

Isaac van der Merwe is ‘n jong opkomende pianis. Hy het onlangs as solis opgetree, in ‘n opname van die Klavierkonsert no. 2  van Dmitri Shostakovich. Hy gesels met Terrance April oor die werk. Die werk word ook uitgesaai op RSG:

 

Ben Schoeman
Peter Cartwright

Die wêreldbekende Suid-Afrikaanse pianis Ben Schoeman is op Sondag 28 Januarie op die RSG-verhoog met Bach se Concerto in F.

Daarbenewens speel Thinus Botha Mozart se 23ste Klavierconcerto en Peter Cartwright Mendelssohn se Eerste Klavier Concerto, beide hierdie werke is gedirigeer deur Eddie Clayton.

Thinus Botha

Op Sondag 4 Februarie en Sondag 11 Februarie volg die Opera Gala met soliste van Suid-Afrika, Korea en die Tsjeggiese Republiek.

Die sopraan Lucie Kaňková is van Tsjeggië en Kyoungho Kim is ’n tenoor van Korea. Die mezzo-sopraan Megan Napier is van Suid-Afrika met Gora Dlamini (bariton), Ntsekelelo Mkhwanazi (tenoor) en Thomas Mohlamme (basbariton) ook van Suid-Afrika.

Die Opera Gala bevat gewilde werke uit die operas La Traviata en Carmen asook die immergroen Nessun Dorma.

Al die konserte is voor ‘n gehoor in die M1-ouditorium by die SABC in Auckland Park opgeneem.

SONA 2024: wat jy moet weet

Die mees onlangse openingsrede was sowat ‘n uur en veertig minute lank waarin President Cyril Ramaphosa meestal verwys het na die suksesse wat behaal is en die verdere sukssesse wat verwag kan word onder sy regering. Hier is sy staatsrede in ‘n neutedop:

  1. NGV gaan ingestel word: Ramaphosa het belowe Nasionale Gesondhiedsversekeirng (NGV) gaan geleidelik in werking gestel word. NGV sal gratis gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners verskaf.
  2. Noodtoelae gaan verleng word: Die noodtoelae, wat tydens die covid-19-pandemie ingestel is, gaan verleng word as die volgende stap na inkomstesteun vir werkloosheid. Die toelae is tans R350 per maand en nege miljoen mense ontvang dit.
  3. Einde van beurtkrag is binne bereik want die werk van die nasionale-energiekris-komitee is besig om vrugte te dra.
  4. ‘n Reaksiefonds vir klimaatsverandering is gestig om die gevolge van aardverhitting te hanteer.
  5. Die stryd teen staatskaping duur Voort. Meer as 200 mense word al vervolg en nog baie ander word ondersoek. Bates ter waarde van R14 miljard is bevries wat met staatskaping verband hou
  6. Pogings duur voort om die logistiekkrisis by hawens en die spoornetwerk op te los.
  7. Hervorming van visumstelsel om die agterstand met die toestaan van visums van buitelanders wat in Suid-Afrika wil kom werk te verlig.
  8. Stryd teen misdaad bly ‘n prioritetit

Steun aan munisipaliteite duur voort.

Agtergrondinligting oor SONAS

Die eerste week van Februarie is gewoonlik tyd vir die jaarlikse staatsrede wanneer president Cyril Ramaphosa sy politieke, ekonomiese en maatskaplike vooruitsigte vir die land uiteensit.

Wanneer daar ‘n algemene verkiesing plaasvind, word twee toesprake gelewer: een om die laaste sitting van die uitgaande parlement aan te dui en die ander een na die verkiesing wanneer die nuwe president en parlement bekend gemaak word.

In Februarie 2010 is die staatsrede vir die eerste keer in die aand aangebied om meer Suid-Afrikaners die geleentheid te gun om die verrigtinge dop te hou en na die president se toespraak te luister. As ‘n gevolg van dié verandering het televisiekykergetalle met ongeveer vyf miljoen kykers toegeneem.

Die staatsrede, wat as deel van die jaarlikse opening van die parlement gelewer word, is ‘n toespraak wat deur die president gelewer word by ‘n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRvP) van die parlement. Die sitting word deur die president byeengeroep en die speaker van die NV en die voorsitter van die NRvP tree as voorsitter op. Dit is een van die seldsame geleenthede waartydens die drie vertakkings van die staat, naamlik die Uitvoerende Gesag (verteenwoordig deur die President, Vise-president en Ministers); die Regbank (verteenwoordig deur die land se Hoofregter en die Regterpresidente); en die Wetgewende Gesag (verteenwoordig deur die Lede van die Parlement (LP’s)) saam op een plek vergader.

Die staatsrede word in drie fases verdeel

Die eerste is openbare deelname wanneer die Burgerlike Erewag die president en sy gaste verwelkom wanneer hulle op die rooi tapyt loop.
Dit word gevolg deur ‘n staatseremonie wat ‘n 21-geweersaluut en ‘n verbyvlug deur die lugmag insluit.
Ten slotte volg die langverwagte toespraak deur die president.

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) beman die roete wat die president na die parlement neem. Die Militêre Erewag neem ook aan die seremonie deel en die militêre orkes speel die Suid-Afrikaanse volkslied. Die 21-geweersaluut word afgevuur ter ere van die Hoof van die Staat, die nasionale vlag, die Hoof van ‘n buitelandse Staat, ‘n lid van ‘n heersende koninklike familie en ‘n voormalige Staatshoof.

In sy toespraak werp die president lig op die prestasies en uitdagings van die afgelope jaar en sit die komende jaar in hooftrekke uiteen. Die toespraak dek politieke, ekonomiese en maatskaplike aangeleenthede en besin oor die algemene toestand in Suid-Afrika. Die Staatsrede is ‘n belangrike manier om verantwoording aan die Parlement en die Suid-Afrikaanse publiek te doen oor wat die afgelope jaar plaasgevind het en om die publiek betrokke te kry by die politieke agenda van die komende jaar.

Dis ook ’n geleentheid waartydens gehoop word dat die president ’n besliste reaksie moet gee – en ’n aksieplan moet deel – oor hoe hy en sy kabinet hoop om in die nuwe jaar die land se uitdagings die hoof te bied. Toegegee, dit is geen geringe taak nie, nie met die verskriklike agteruitgang en totale ineenstorting van infrastruktuur weens gebrekkige instandhouding nie. ’n Lang lys beloftes is waarskynlik die meeste waarop Suid-Afrikaners kan hoop wanneer ‘n staatsrede gelewer word.