Suid-Afrikaners moeg vir SEB

‘n Meningspeiling deur die gesaghebbende Social Research Foundation, wat onlangs bekend gestel is en in April vanjaar gedoen is, wys Suid-Afrikaners uit alle oorde, is nie meer gediend met swart ekonomiese bemagtiging nie. Terwyl Suid-Afrikaners die mening huldig, stem kommentators nie almal saam nie. Die politieke ekonoom, Moeletsi Mbeki, meen SEB moet afgeskaf word, terwyl die Black Business Council meen die beleid moet meer robuust toegepas word.

Ons praat hieroor met Hermann Pretorius van die Instituut vir Rasseverhoudinge.

‘n Boom is uit 1 000 jaar oue saad gekweek

’n Boom, wat uit ‘n 1 000 jaar oue saad gekweek is het, het ná 14 jaar nog nie geblom nie. Die spesie het andersins uitgesterf. Toetse wys dat die boom medisinale eienskappe het, en heel moontlik gebruik is om ‘n medisinale balsem te maak waarna daar in historiese tekste verwys word.

SA se enigste Heuning sommelier

Natasha Lyon

Natasha Lyon vertel vir Martelize Brink hoe dit gekom het dat sy in Italië kwalifiseer het as Afrika se enigste heuning sommelier met die kwalifikasie.

Watter kewers is dit hierdie?

Marthinus Potgieter het vir HVJD foto’s van kewers gestuur wat hy graag deur ons Entomoloog, dr. Johan Pretorius wil laat identifiseer.

Skrywers en boeke: Donker Water; Booker-pryswenner en Britse kortlyste

Martin Steyn gesels oor sy nuwe roman, DONKER WATER, wat handel oor polisieduikers en hulle belangrike werk.

Jonathan Amid gesels oor twee romans deur Barbara Boswell en Siphiwe Gloria Ndlovu.

In Johan Myburg se internasionale insetsels kan jy meer uitvind oor Shehan Karunatilaka, ‘n Bookerpryswenner van Sri Lanka wat einde Oktober deelneem aan die BookBedonnerd-fees op Richmond in die Karoo. Johan deel ook die kortlyste van twee Britse pryse, die T.S. Elliotprys en die Goldsmithsprys.

Jy kan ook meer uitvind oor die wenners van die KykNET/Rapportboekpryse en die ATKV-Woordveertjies.

My kind hakkel

Spraakterapeut en skrywer  Christien Neser verduidelik wat die moontlike oorsake van hakkel kan wees, en hoe dit behandel kan word.