Veediefstal in Suid-Afrika is deel van georganiseerde misdaad.
Só sê Willie Clack, ‘n bekende onder landbouers in Suid-Afrika en ‘n man wat reeds talle jare navorsing hieroor doen. Willie het aan die einde van 2022 sy uittrede as voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum aangekondig.
Koos du Pisanie vind meer uit oor die nuwe formele kwalifikasie van Graandepot-bestuurders.
Al die onderstaande foto’s is onlangs in Suid-Afrika geneem:
Polisie in die Vrystaat het twee mans gearresteer met gesteelde skape ter waarde van R500000.
Danksy die Peritum Gapjaar in Landbou het skoolverlaters vanjaar ’n nuwe, opwindende opsie wanneer hulle hulle toekomsplanne smee.
Studente sal vanaf Februarie tot Desember nuwe landboukennis, praktiese landbou-ervaring, asook noodsaaklike persoonlike en interpersoonlike vaardighede aanleer.
Die nuwe HortiDemoCentre in Stellenbosch (foto bo) spesialiseer in beskermde tuinbou, en sal die nuutste Nederlandse tuinboutegnologie ten toon stel. Die sentrum beywer hom daarvoor om ‘n lewensvatbare besigheid te wees deur innoverende Nederlandse tegnologieë vir winsgewende, produktiewe, volhoubare en klimaatslim agronomie te implementeer en opleiding aan studente en opkomende boere te bied.
Ervaar jy elke dag chroniese pyn? Hoe belangrik is dit om hierdie pyn sielkundig aan te pak? Kan dit waarlik ‘n verskil maak aan die ervaring en hantering daarvan?
Daar is ‘n groen komeet wat in Februarie oor Suid-Afrika sigbaar sal wees met ‘n verkyker. Willie Koorts en Matie Hoffman gesels oor hierdie besoeker aan ons hemelruim. Sterrekykers is veral opgewonde omdat dit 50 000 jaar gelede naby die aarde was.
‘n Luisteraar wil weet wat van die satelliete geword het wat aan boord die vuurpyl was wat onlangs nie volledig in ‘n baan ontplooi kon word nie. Die tweede stadium van die vuurpyl het nie ontsteek nie.
Daar is ook nuus oor navorsing wat gedoen is om die doeltreffendheid van sonpanele met tot ‘n duisend keer te verbeter.
Hy is nie meer vandag se kind nie, maar sy fut is nog lank nie uit nie. Lizma van Zyl gesels met die legendariese musikant, Sipho Hotstix Mabuse.
Dié “gentle giant” van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf deel sy vreugdes en passies, en vertel hoekom dit so belangrik is dat die regering jong kunstenaars ondersteun.
Die landswye FM-sendernetwerk is onder hewige druk a.g.v. beurtkrag en verskeie ander faktore soos karige instandhouding en vandalisme. Gesprekke met Sentech, wat die seinverspreiding vir alle radiostasies in Suid-Afrika doen, word op die hoogste vlak gevoer.
RSG se programbestuurder, Kobus Burger, praat met Jaap Lourens van Sentech oor algemene radiokwaliteit, watter faktore uitsendings beïnvloed, hoe jy aanpassings kan maak om sake te verbeter, en alternatiewe metodes om jou gunsteling radiostasie op te vang.
Deel 1:
Deel 2:
Hier is alternatiewe metodes om na jou gunsteling radiostasie te luister:
Een van Tharien Oosthuizen se groot liefdes is Musiekgeskiedenis.
Al die spesialisreekse wat sy al vir RSG gemaak het, is gegrond op haar kennis van die geskiedenis van musiek. Haar nuwe reeks, Die storie deur harmonie, is nog ‘n spesialisreeks waar luisteraars ‘n dieper kennis kan ontdek en beleef van die genre programmusiek.
Programmusiek is ‘n musiekgenre wat al vir eeue bestaan. Dit het veral in die Romantiese tydperk, – van die laat 1800’s – ontwikkel tot ‘n verfynde genre.
Komponiste het musiek gekomponeer wat ‘n storie vertel. Die instrumentale musiek beeld ‘n storie, natuurtoneel, fabel, mitiese karkater of nasionalistiese ideologie uit.
Die kuns om met instrumente ‘n beeld te skilder het komponiste, van die Romantiese tydperk tot hedendaagse komponiste, vervolmaak.
SmetenaVivaldi
Musiek wat in die reeks gehoor kan word is van komponiste soos Bach, Vivaldi, Haydn, Beethoven, Tjaikofski, Smetena, Saint-Saens en nog baie meer.
Kom luister Sondae om tienuur na die storielyne van die bekendste programmusiek en wat die storie is wat die komponiste deur middel van harmonieë en instrumente oor vertel.
Terwyl baie mense vrolik is en die feestyd geniet, is daar ook baie mense met donker gedagtes van selfdood, en nie meer kans sien vir die lewe nie.
In die vierde episode in die reeks ‘Laat die lig in’ fokus ons op kliniese, wetenskaplike feite oor depressie en Prof Lizette Rabe deel meer persoonlike inligting en dinge wat haar help om die dood van haar seun te verwerk.
Deel 1:
Deel 2:
In die derde episode in die reeks ‘Laat die lig in’ vertel die bekende joernalis Willemien Brümmer hoe sy haar angstigheid, wat soms verlammend en oorweldigend kan wees, bestuur. Sy vertel wat vir haar help, hoe sy begin draf het, en hoe belangrik stories en skryf vir haar is.
Die program word opgedra aan haar pa, prof Guillaume Cornelis Langenhoven Brümmer, wat op 4 Januarie oorlede is en wat Willemien die ‘eintlike storieverteller’ noem.
Luister ook
Luister ook na die eerste twee episodes in die reeks ‘Laat die lig in’ om mense met donker gedagtes en wat sukkel met depressie en angstigheid hoop te gee deur die vertellings van drie vroue wat regstreeks deur hierdie siekte getref is.
Prof Lizette Rabe
Deel 1: Drie formidabele vroue, prof Lizette Rabe, Willemien Brummer en Sophia van Taak, het regstreeks te doen gekry met selfdood, depressie en angs, en deel hul insigte oor wat hulle geleer het en wat vir hulle gewerk het.
Deel 2: Laat net die lig in, sê Sophia van Taak, wat al self ’n einde aan haar lewe probeer maak het. As jy in hierdie tyd nie kans sien vir die slae van die lewe nie, kry hulp, want daar wag nog ’n wonderlike, onvoorspelbare avontuur met die naam ‘lewe’ op jou. Laat net die lig in.
In al die jare wat ek Sondag-joernaal en nou ook Binnekamer aanbied is stories van hoop, dié waarop luisteraars die meeste reageer. In ons land en omstandighede het mense nie net hoop nodig nie maar ook motivering om self die eerste tree te gee.
Die program “Wat het jy in jou hand” (Sondae om 19:00) het in my gedagtes gegroei aan die hand van die Weduwee van Sarfat waarvan ons in 1 Konings 17:8 – 24 in die Bybel lees.
Sy het niks gehad behalwe hoop en drome nie maar wat sy nie in haar desperate omstandighede geweet het nie was dat God betrokke was. God het reeds besluit sy sal deel sal wees van iets groter as haar omstandighede.
Daar is vandag in die moderne lewe nog heelwat van hierdie stories waar mense kop optel, kyk wat hulle in die hand het en iets daarmee doen. Ek noem hulle graag Engele – gestuurdes – wat ander mense se omstandighede op die hart dra.
Die 13 episodes van die reeks vertel die stories van gewone mense wat met niks in die hand nie, wel ‘n groot verskil in mense se lewe kon maak. Dis eintlik stories van barmhartigheid maar nie die gewone :”ek gee en jy ontvang” barmhartigheid nie. Dis ‘n nuwe manier van vorentoe gaan en entrepreneur wees met die kommoditeit van skouer aan die wiel sit.
Ons kuier gemaklik saam met al die rolspelers en gaan haal die storie heel aan die begin by daardie eerste gedagte waar die saadjies uitbroei en vra dan ook ‘n teoloog om aan die einde van die program in kort saam te vat om die belangrike punte van die gesprek uit te lig en saam te vat.
Dis gesprekke wat jou aan die hart raak en om soos een luisteraar dit gestel het “Dis die soort aanbieding wat tot ryke seën lei en terselfdertyd sal dit die pawiljoensitters lus maak om speelveld toe te beweeg om te speel en ‘n verskil in die samelewing te maak. Christenwees is lank nie meer ‘n Sondagsaak in die kerkgebou nie! Dis ‘n dag vir dag aksieplan.”
Sondae @ 19:00 (Geloofsreeks)
Wat het jy in jou hand
1 Jan – 26 Mrt
(13 episodes)
Vervaardiger: Wordwise
Aanbieder: Lizelle de Bruin en verskeie gaste
Luister na die eerste episodes in die reeks
Lizelle de Bruin gesels met Stefanie Henderson van Ma’s vir Wellington. Hulle het ‘n kleuterskool in die buitewyke van Wellington vir kinders tussen drie en sewe jaar oud, ‘n driedag oppasdiens en aktiwiteite vir gestremdes in die gemeenskap. Hulle doen ook Bybelstudie saam met die ma’s van die kleuters in die kleuterskool.
ECHO is ‘n geloofsgemeenskap wat omgee vir jongmense in nood. Daar is tans 13 huise en weeklikse programme by elf skole. ECHO Jeugontwikkeling het in 2001 tot stand gekom en is ‘n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy. Daar is Echo-gemeenskappe in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad. Die Echo Plaasprojek is net buite Frankfort in die Vrystaat.
Math Moms skep ‘n veilige ruimte waar kinders wiskunde kan leer. Hulle lei werklose mammas en pappas op om kinders te help met huiswerk. Hulle vergesel ook hierdie mammas op ‘n reis van selfontdekking, waarin hulle hulle eie gawes en sterkpunte leer ken sodat hulle die volgende stap in die toekoms kan neem.