RSG NOU


Ontmoet weer ‘n tydsreisiger in RSG se radioteater!
2023-12-11
In Donderdag 14 Desember se radioteater op RSG word ‘n tydsreis onderneem in Nols D’Amus. Dié drama deur Hendie Grobbelaar, ‘n finalis in die 2022 radiodramaskryfkompetisie, word om 20:00 op RSG uitgesaai.
Die storie
Die hoofkarakter, Nols, beland ná ‘n aardbewing in die Vallei van Tussen-In, en in ‘n ander dekade! Die inwoners van die Vallei praat nog van langspeelplate, kasette en fakse – want hulle leef in 1989. Nols kom van 1999, waar daar darem al selfone en CD’s , en ‘n ander regering is. Die inwoners van die Vallei is ‘n interessante klompie bymekaar. Daar is die nie-amptelike burgemeester, die weduwee Esme De Koker, wat hard aan die man-soek is. Sy is ook die mede-eienaar van ‘n diamantmyn. Die ánder eienaar is ‘n restauranteienaar op die dorp, Kristoff, wat nie veel ooghare vir Esme het nie. Die polisieman, Janneman Plaatjies is bekommerd dat hy nie genoeg geld gespaar het vir sy aftrede nie, en om op perde te verwed lyk vir hom na ‘n manier om sy inkomste aan te vul. Santjie Venter is ‘n eksentrieke, maar geliefde inwoner. Sy verdraai name en uitdrukkings, en noem die waarheid by die naam. Sy som Nols ook vinnig op vir die swendelaar wat hy is, terwyl die ander inwoners om die bos gelei word met beloftes van rykdom as hulle maar net vir Nols toevertrou met hulle spaargeld of diamante. Wanneer Nols dan die Vallei verlaat om met die inwoners se geld te gaan woeker, ontmoet hy vir Pieterse, ‘n vragmotorbestuurder, in 2020. Dit is ‘n lighartige storie wat so ‘n bietjie spot met mense se naïwiteit (en gierigheid) wanneer dit kom by beloftes van vinnige rykdom as hulle net in ‘n spesifieke skema of plan van ‘n gladdemond-glyjakkals belê.Die spelers

Uit die pen van die skrywer, Hendie Grobbelaar
