Tien jaar gelede, enkele dae voor die bekroonde digter en akademikus, TT Cloete, se 90e verjaarsdag, het hy met Ina Strydom gepraat oor sy lewe en werk; oor sy digterskap en ouderdom, en oor genade. Dié heruitsending van die profieldokumentêr is as huldiging van dié merkwaardige mens, wat vanjaar 100 jaar oud sou wees.
In die program vertel hy vir Ina Strydom oor sy kinder- en jeugjare, sy studies en loopbaan as akademikus. Hy vertel hoe polio, wat hy in sy tweede jaar as student opgedoen het, sy lewe verander het.
Hy vertel van sy belangstelling in rigtings soos die kosmologie, die teologie die wysbegeerte en die letterkunde.
Cloete praat ook met groot deernis oor sy oorlede vrou Anna, en hoe sy hom geïnspireer het om sy gedigte te publiseer.
Hy sê hy het sy hele lewe probeer uitvind hoe God dink. Hy praat ook oor ouderdom, en oor genade.