RSG NOU


Kersdag saam met RSG
2023-12-15
Kersdag op RSG gaan vanjaar ‘n heilsame kuier wees met verse, stories, Kersmusiek en selfs ‘n reis na verskillende lande om te hoor hoe hulle Kersfees vier.
Luisteraars sal ook versoeke en Kerswense op lug kan deel.
Om 07:10 is daar ‘n spesiale Kersstemming, aangebied deur Tharien Oosthuizen, gevolg deur Loof die Here met Magdaleen Kruger, wat haar program aan Kersmusiek sal wy.
Die Oggenderediens volg om 09:00, en daarna Kersversoeke aan luisteraars van 90 jaar of ouer.
Nic de Jager gaan sy plate afstof vir ‘n Kersweergawe van Nic se goed, net na 12:00.
Lizelle de Bruin en haar span gaan net na die 13:00-nuus op hul unieke manier Kersfees vier.
Estel de Beer, RSG se senior regisseur mandaat, bied Kortom vir Kersfees om 14:00 aan. Die verhaal handerl oor ‘n Suid-Afrikaanse aktrise wat terugkeer na haar wortels wanneer sy die glanswêreld van Hollywood agterlaat om Kersfees in Suid-Afrika te kom vier.
Net hierna gaan Sophia van Taak om 14:30 ‘n Vers en klank aanbied.
Die Kersdrama, Vier dae voor Kersfees, volg om 15:05. Dit is geskryf en geregisseer deur Estel de Beer met Henriëtta Gryffenberg, Anton Dekker, Charlie Bouguenon, Ria Smit en die nuweling Dihan Keun in die rolverdeling. In Suid-Afrika ken ons ‘n Somerkersfees en ontmoet in hierdie verhaal die Scheepers-gesin op hul plaas, Modderfontein. Die twee broers, Hein en Matthys, werk saam met hul pa, André, terwyl hul ma, Corli, voorberei vir die 24 familielede wat Kersdag op die plaas kom vier. Vier dae voor Kersfees roep André die broers na sy studeerkamer. Daar moet besluite geneem word wat die gang van die boerdery gaan verander. Dit ontstig Corli. En boonop is tannie Baby reeds besig om die Kersdag-spyskaart oor te neem. Sal hierdie Kerstyd wel ‘n tyd van versoening wees, of is dit dalk die laaste familiebyeenkoms op Modderfontein?
Net na die Kersdrama volg ‘n gespreksprogram om 16:05, aangebied deur Flip Loots.
Jacqui January skuif om 17:05 agter die mikrofoon in vir Dis gospel. Om 18:10 kan luisteraars hul Kerswense en -versoeke op lug deel.
Kompas, InTune met Fran-Rico Lucas, Beste van asook Laataandkuier is elk in die gewone tydgleuf.
Die Aandgedagte en aandboekvoorlesings sal ook gehoor kan word.
Die onderstaande foto's is met die opname van die Kerskonsert geneem: