RSG NOU


Luister weer na Só klink Distrik Ses
2024-02-23
Luister weer na Só klink Distrik Ses, ‘n nostalgiese dokumentêr saamgestel deur Haidee Muller.
Baie van hierdie kunstenaars, al is hulle dalk minder bekend, het met hulle stemme en kuns bygedra tot die nalatenskap van die Distrik se musiekgeskiedenis. Deur hierdie langvergete musiekskatte te deel, kan die luisteraar meer leer oor die omvang en diversiteit van die verskeie musiekgenres en 'n waardering ontwikkel vir die ryk tapeserie van musiek wat uit Distrik Ses voortgespruit het.
Veteraan joernalis, Warren Ludski, ‘n boorling van die area, het by geleentheid genoem dat die eienaar van Meteor Records in Darlingstraat, bykans elke talentvolle musikant van Distrik Ses die geleentheid gebied het om in Meteor se ateljees plaatopnames te maak. Dié skaars plaatopnames het mettertyd verdwyn en kan vandag slegs gevind word in enkele privaat musiekversamelings aan ons bekend.
Dit sluit kunstenaars in soos Derek Petersen and the Escapades, Chico Levy, The Big Beats, The Missiles, The Exotics, The Rockets, Lunar 5, Hippies, D-Fenders en ander.
Ander kunstenaars wat ook deel vorm van die dokumentêr, sluit in: Maud Damons, Zayn Adams, Taliep Petersen, Doo wop, groepe soos die African Mills Brothers, The Rockets met Salie Daniels, langarmgroepe soos Alf Wylie, die Alpha Rhythms, Eoan sangers, Maleise koorgroepe en ander.