RSG NOU


Luister weer na roerende drama 'Voor ek Vergeet'
2023-11-22
Luister Donderdagaand net na 20:00 na die roerende drama Voor ek vergeet. Voor ek vergeet is geskryf deur Karen Marx en vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Die regisseur is Christelle Webb-Joubert. Amanda Strydom en Hannes van Wyk het destyds die rolle vertolk in die verhoogproduksie. Donderdagaand word die stemme van Dawid Minnaar, Nadia Valvekens en Eddie de Jager ook gehoor.
Die storie
Hendrien moet skuif van haar woonstel, na ‘n kamer in die aftree-oord waar sy bly. Sy is gediagnoseer met vroeë tekens van dimensie. Daarby het haar pragkind, haar talentvolle seun Johan, se kanker teruggekeer. Hierdie is ‘n storie van oud word, afskaal, twyfel, verlies en vergeet. DIE AKTEURSHENDRIEN | Amanda Strydom | |
JOHAN | Hannes van Wyk | |
LOUISE | Nadia Valvekens | |
DS. SMIT | Dawid Minnaar | |
PIETER | Eddie de Jager |

Die idee van Hannes van Wyk

Die verwerking vir radio – Eben Cruywagen vertel van sy uitdagings
Om enige teks, hetsy prosa, verhoogdrama of van die elektroniese visuele media vir die radio te verwerk, is in die eerste plek ʼn reuse voorreg en in die tweede plek ʼn uitdaging - want daar is geen resep wat alle genres oor dieselfde kam skeer nie. Die oorspronklike verhoogteks van Voor ek vergeet deur Karen Marx, het twee karakters gehad: Die sewentigjarige HENDRIEN in die vroeë stadium van demensie en haar veertigjarige seun, JOHAN, ʼn Hodgkinsiekte-lyer. Om die drama radiomatig te kry, moes daar noodwendig nie net aan die oorspronklike dialoog vir die verhoog verander word nie, daar moes ook dialoog geskep word om die visuele ervaring van die teaterganger te ondervang. Daarbenewens moes nuwe karakters en nuwe tonele geskep word sodat die luisteraar deurentyd betrokke kan bly en empatie met die karakters kan hê. Gelukkig verskaf die verhoogteks genoeg ammunisie wat die name van bykomende karakters betref, soos LOUISE, Johan se gewese verloofde, DOMINEE SMIT, die Botha-gesin se jarelange leraar, en PIETER, Johan se jonger broer wat na Australië uitgewyk het. Vir elkeen van hierdie karakters moes daar natuurlik ook nuwe tonele geskep word sodat hulle met die nuwe gegewe van die radiodrama geïntegreer kon word. Met elke verwerking van sulke sterk materiaal, is my enigste wens dat ek reg sal laat geskied aan die skepping van die dramaturg, die karakters en die intrige.Amanda Strydom vertel meer van Hendrien
Ek was 23 jaar laas in 'n toneelstuk toe Hannes van Wyk my in 2011 genader het om die rol van Hendrien Botha te vertolk in Voor ek vergeet. Toe ek die stuk lees, het ek besef ek sal absoluut simpel wees om dié kans te laat verbygaan. Dit is só 'n wonderlike karakter om te speel, Hendrien is 'n volronde, lieflike vrou met 'n heerlike sin vir humor, 'n passie vir musiek, diep gelowig en haar seun is haar hele lewe. Wanneer sy met demensie gediagnoseer word, klou sy verbete aan die lewe vas, eers deur ontkenning, dan aanvaarding. Sy moet haar bekende wêreldjie verruil vir 'n kamer en dit gooi haar lewe deurmekaar. Daar is soveel fasette aan hierdie karakter en ek het elkeen probeer uitlig. Die liefde loop soos 'n goue draad in haar wese en selfs in die magteloosheid van haar situasie, veg sy teen die onvermydelike. Wat 'n eer was dit om ná soveel jaar hierdie karakter weer teenoor Hannes van Wyk te vertolk. Die pluspunt was die karakters wat Eben Cruywagen bygeskryf het om die storie verder in te kleur. Dit was baie spesiaal dat Eben getrou gebly het aan die oorspronklike toneelteks. Regisseur Christelle Webb-Joubert het ons gekoester tydens die bykans vyf ure se opname en daar was tye dat ons trane vlak gelê het. Dit is 'n storie van verlies, hoop, maar bowenal liefde. Dankie dat ek weer deel kon wees daarvan.Regisseursnotas deur Christelle Webb-Joubert
