Skip to content

RSG Kunstefees

POTGOOI

RSG Kunstefees

Augustus 8, 2024
(4:43 am)

RSG se kunstefees op lug - Ons bring die kunste na jou toe!

4 Desember 2019

Clinton V. du Plessis, 'n syfersmid van Cradock, is een van ons mees onderskatte digters. 'n Digter wat die lot van die gewone man en vrou op toeganklike en deernisvolle wyse verwoord. Die bundel, Verslag, word deur die dikwels miskende digter as sy swanesang beskryf nadat hy vier dekades gelede met 'n vers in die tydskrif, Patrys, gedebuteer het. Luister na van die mooiste gedigte uit Du Plessis se oeuvre, en veral uit hierdie tiende bundel, voorgelees deur Dean Balie en Cantona James. Kom vind ook meer uit oor hierdie "onderskatte voetsoldaat van die Afrikaanse lettere": die kronkelende lewenspad, die amper uitgebrande kers, die spoorlyn, die doringdraad, die gebreekte glasbottel en uiteindelik die volledige katastrofie van die lewe.

8 Augustus 2024

Volgens Doon was dit liefde met die eerste oogopslag. Hy kon net nie ophou kyk na die beeldskone Nina nie. Elke week in 'n ander ontwerpersuitrusting. Soms net in haar onderklere. Doon besef die tyd is nou ryp om vir Nina sy huis te gaan wys, maar om dit te kan doen, moet Hendri saam. As hy nie saamgaan nie, kan hy gaan klik. En dan gaan die hel losbars. Maar wie is die geheimsinnige Nina en wat weet Hendri wat ons nie mag weet nie?

8 Augustus 2024

Die veelsydige en veelbekroonde Dolf van Niekerk het vanjaar 90 jaar oud geword. Die stukke van die legkaart van sy lewe sluit onder meer sy loopbaan as omroeper en radiodramaturg in; sy loopbaan in die Departement van Landbou; sy doktorsgraad in die filosofie, en as voorloper en vernuwer in die letterkunde, is hy deel van die Sestigers. Uit sy pen verskyn poësie, prosa en drama. Onlangs is sy jeugherinneringe in 'n bundel vervat met die titel Legkaart van 'n jong lewe wat die kort huldigingsprogram geïnspireer het. Kom “luisterkuier” na voorlesings en vertellings oor van die invloede en indrukke wat die legkaart van sy lewe vorm.

8 Augustus 2024

Jana bied ekstra klasse vir 'n leerder aan. Die onderwys is 'n roeping en onderwysers maak groot opofferings. Hulle motiveer en inspireer. Maar soms is dit wat 'n onderwyseres kan bied, nie goed genoeg nie. En dan tuimel die hele kaartehuis ineen.

8 Augustus 2024

'n Sweefstokarties maak gereed vir sy heel laaste optrede. Karl was die land se heel voorste en gewildste kunstenaar in hierdie ysere dissipline. Tot tien jaar gelede... Vandag probeer hy weer dieselfde toertjie, sowat twintig meter bokant die grond en sonder 'n net. Hy word egter kort voor sy optrede deur iemand besoek wat hom met sy verlede konfronteer.

8 Augustus 2024

Daar is haas geen mens op Aarde wat nie die verhaal van Adam en Eva iewers in hulle lewens al gehoor of gelees het nie. Die basiese verhaal soos dit in die Bybel opgeteken is, is dat God Adam eerste geskape het, en Eva daarna uit 'n rib van Adam gevorm het terwyl Adam in 'n diepe slaap verkeer het. God het aan Adam en Eva die vryheid gegee om van alles in die Tuin van Eden, die Paradys, te eet, behalwe van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Die Slang, of Satan soos dit welbekend is, het egter uit sy pad gegaan om die salige bestaan van die eerste man en vrou op aarde te verongeluk deur Eva te mislei om van die verbode vrug van die boom in die middel van die tuin te eet. Die res is, om die cliche te gebruik, geskiedenis. Joe Kleinhans se verhaal volg wel die breë skeppingsmite van die eerste mense op Aarde, maar met 'n bietjie humor en anachronistiese kinkels daarby: Eva sit op Adam se kop en sy boer met haar neus in perkamentrolle wat net deur mans geskryf is. Iets wat haar dwars in die krop steek. Sy sou graag meer opwinding wou beleef, maar die kreatuur wat homself Adam noem, wil net hê sy moet gaan vrugte pluk en water haal. En boonop is hy 'n vrot vryer. Die wyse Uil probeer die saak beredder, want hy is deeglik bewus van die opdrag dat Adam en Eva, soos al God se skepsele, moet vrugbaar wees en vermeerder. Maar daar's 'n uiters flambojante, romantiese vent wat by Eva vlerksleep en alles in sy vermoë doen om haar te verlei... Om alles te kroon, is daar groot ongelukkigheid onder die diere vir die onsensitiewe name wat sommige van hulle van die einste Adam gekry het.

0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x