WOORDE LOK WOORDE

‘n Spesiale versprogram waarin gedigte oor landskappe, taal en verganklikheid gehoor kan word. Die verse kom uit Johan Myburg se nuwe, nog ongepubliseerde bundel, Uittogboek, wat volgende jaar by Protea verskyn. Myburg het in 1984 met Vlugskrif gedebuteer en dit met Kontrafak opgevolg. Kontrafak het in 1995 die Eugène Marais-prys ontvang. Die bundel Kamermusiek – beskryf as ‘n “moet-hê vir enige fynproewer se rak” – het in 2008 gevolg.

vryLAG

Met Emo Adams, Schalk Bezuidenhout & Lindie Stander. Hierdie gedugte driemanskap, onder leiding van die bekkige Johan Rademan, sit die lag in Vrydag. Dit is komedie sonder grense en ‘n nuwe konsep om ‘n stortvloed van lagbuie te verseker. Sal die mikrofone en die luisteraars se ore hierdie komiese klets kan hanteer.

Luxurama

Johan van Lill bring hulde aan die gewilde en omstrede Luxurama-teater in Wynberg in die Kaap.

Zyma Amien

Johan van Lill gesels met die kunstenaar Zyma Amien oor haar lewe en werk.

Nee wat, die koek is droog deur Theunis Engelbrecht

‘n Groep kortverhaalskrywers het in opdrag van RSG Kunstefees 2016 ‘n storie geskryf rondom die opdrag – “Nee wat, die koek is droog…” Die uiteenlopende verhale is kostelik, speels, humoristies en oorspronklik.

DIE ONSIGBARES: VLOER 44

‘n Klankstorie geskryf deur Krisjan Fourie, met Nic de Jager as die voordragkunstenaar en musiek deur Paul Riekert (van Battery 9-faam).

LIEF-LIEF DEUR AFRIKAANS

Met Johann Nel & Joanie Combrink. Saamgestel deur Juanita Swanepoel. In Lief-lief deur Afrikaans neem Nel en Combrink die luisteraar op ‘n soomlose liefdesreis: van die heel oudste – en stoutste! – liefdesverse in Afrikaans deur die hele spektrum van die liefde tot reg in die sitkamer van die spreekwoordelike Huis Herfsblaar. Daar is interessante afdraaipaadjies langs die pad waar die twee voordragkunstenaars gaan inloer. Met die werk van sowat 28 digters wat Pulvermacher en ou, anonieme digters insluit, is daar verbode liefde, verlore liefde, intellektuele liefde en die sensuele liefde (dink maar net aan wat ‘n tango in jou losmaak).