Twee broers het weens ‘n familietwis vir 23 jaar lank nie kontak met mekaar gehad nie. Die oudste broer het ernstig siek geword en op sy sterfbed vra die gesinsdokter hom of hy die jonger broer moet ontbied om te kom afskeid neem, maar die koerante het ‘n berig geplaas waarin gemeld is dat die jonger broer ‘n belangrike prys in Swede sou ontvang. Gevolglik wou die ouer broer nie inbreuk maak op sy kleinboet se prestasie nie. Die jonger broer daag egter skielik op omdat hy skynbaar iewers van sy ouboet se siekte gehoor het. Of het hy dalk op ‘n gans ánder voorgevoel gereageer?
DIE SUSTER M’T DIE SNOR deur Ferdinand Deist
Ou suster Anna was ‘n onkantige ent mens gewees en dan’t sy pebliek ‘n snôr onner haar neus gehad – ‘n pikswarte. Die ou Skot Mister Miknemara is bedlêend en sorg eendag dat ou suster Anna sowaar ‘n glimlag onner daai snôr kry.
DIE MAN MET DIE BLOM IN SY MOND deur Luigi Pirandello
‘n Vredeliewende sakeman verpas die laataandtrein. Hy gaan sit en wag in ‘n deurnagkafee vir die volgende oggend se trein. Hier ontmoet hy ‘n ouer man wat hom beïndruk met sy fyn waarnemingsvermoë en liefde vir die lewe. Die sakeman is verras met wat die man alles raaksien, totdat die man iets oor homself onthul…
Tweeluik: Marlene van Niekerk-bekendstelling
Die internasionaal bekroonde digter en romansier Marlene van Niekerk in gesprek met die aktrise Susanne Beyers oor haar dubbeldoor-digbundels wat vroeg in 2018 deur Human & Rousseau gepubliseer word. Van Niekerk lees vir die eerste keer en eksklusief uit haar bundels In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889-1920 asook Gesant van die mispels: Gedigte by die skilderye van Adriaen Coorte ca. 1659-1707 voor. Volgens wyle Henning Snyman is die bundels ‘n “poëtiese en grammatikale kragtoer”, en ‘n “ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.
SPERTYD deur Elsa Joubert (Deel 2)
Selde is daar al so eerlik, met ‘n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Spertyd, voltooi in Elsa Joubert se 95ste lewensjaar, is ‘n merkwaardige werk wat geen luisteraar onaangeraak sal laat nie. Luister na uittreksels uit hierdie splinternuwe werk.
VERTOONKAS, saamgestel deur Kirby van der Merwe
Kyk saam met Kirby van der Merwe en digters soos Martjie Bosman, Sipho Sepamla, C. Louis Leipoldt, Andries Bezuidenhout, Motshile Nthodi, Jolyn Phillips, Dan Roodt, D.J. Opperman, Johan Myburg en N.P. Van Wyk Louw deur die glaspanele, deur die ruite na binne en vanuit die verseëlde vertoonkas na buite deur die spieël in ‘n raaisel.
DIE DOOD VANNIE FOUNMANNETJIE deur Ferdinand Deist
Ou Lettie Ingelbrê kon nou vir jou geskinner ‘t! Dis nou een swak wat die ou siel gehad ‘t wat sy net nie ontslae van kan geraak ‘t nie. Totdat die gemeenskap ‘n plan beraam om haar in die bek te ruk…
BRAAM VIER: ‘N POLIESMAN WEET NOOIT deur Abraham H. de Vries
‘n Boer ontbied die polisie een Saterdagaand na sy plaas om van sy plaaswerkers te kom arresteer. Naas ‘n klag van rusverstoring, lê hy ook klagte van brandstigting en moord. Die jong ondersoekbeampte wat aangewys word om na bewyse in die voormalige bywonershuisie te gaan soek, spandeer ‘n hele nag daar en ondersoek die inhoud van die huis nie minder nie as drie keer. Sonder om enige bewyse van moord of brandstigting te vind. Hy moet sy bevinding aan die staatsaanklaer verduidelik, en maak ‘n verrassende onthulling.
SPERTYD deur Elsa Joubert (Deel 1)
Selde is daar al so eerlik, met ‘n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Spertyd, voltooi in Elsa Joubert se 95ste lewensjaar, is ‘n merkwaardige werk wat geen luisteraar onaangeraak sal laat nie. Luister na uittreksels uit hierdie splinternuwe werk.
BRAAM VIER: DIE ROOI VAAS deur Abraham H. de Vries
‘n Jong meisie se tante lê op sterwe. Tydens een van haar talle besoeke aan die sterwende vrou, word sy gevra om ‘n rooi vaas uit ‘n kas te haal. Dit is die mooiste vaas wat sy nog in haar lewe gesien het en sy ontwikkel ‘n obsessie om die vaas ná haar tante se afsterwe te besit. Maar hoe moet sy te werk gaan om haar tante te oorreed om die vaas aan haar te bemaak, sonder om blatant daarom te vra? Nadat sy egter die verhaal oor die oorsprong van die vaas gehoor het, verkeer sy in ‘n ernstige gewentenswroeging. Enersyds is die vaas ál waaraan sy kan dink en kan sy letterlik nie wág vir haar tante se afsterwe nie, maar terselfdertyd voel sy diep skuldig oor haar obsessiewe gedrag. Uiteindelik het die noodlot bepaal wat met die vaas gebeur. Of was dit dalk nie…?