Uit ‘n ander hoek 22 April 2018

Jean Oosthuizen gesels met toekomskundige en godsdiensfilosoof dr. Piet Müller en sielkundige berader Truida Heymann oor drome. Hy wil by hulle weet wat die betekenis van drome is.

Uit ‘n ander hoek 15 April 2018

Evolusie vind nie net by spesies plaas nie, maar as’t ware ook tussen mense se ore. Het die Christelike geloof en ander gelowe ook ʼn rakleeftyd, en kan dit dalk uitsterf. Jean Oosthuizen gesels met ‘n paleontoloog, Jurie van den Heever, en ʼn teoloog van die Hervormde Kerk, Piet van Staden, oor die evolusie van geloof. Hy wil by hulle weet of geloof ook moet aanpas om te kan oorleef.

Uit ‘n ander hoek 8 April 2018

Genadedood of bystanddood wanneer ʼn geneesheer ʼn terminaal siek pasiënt help om sy of haar lewe te beëindig is ʼn hoogs omstrede onderwerp. Terwyl al hoe meer stemme opgaan om bystanddood in Suid-Afrika te wettig worstel baie mense met die etiese, morele en godsdienstige implikasies daarvan. Jean Oosthuizen gesels met die filosoof professor Anton van Niekerk en ʼn narkotiseur dokter Heinz Mödler in die program Uit ʼn ander hoek oor genadedood. Kan dit moreel regverdig word om iemand onder bepaalde omstandighede te help sterf?

ONS DORP deur Thornton Wilder

Die Amerikaanse dramaturg Thornton Wilder se Our Town is vanjaar 80 jaar oud en is in 1938 met die Pulitzer-prys vir Drama bekroon. Die immergroen verhaal handel oor die mense van Grover’s Corners in New Hampshire. Die luisteraars volg die Gibbs- en Webb-gesinne oor ‘n tydperk van twaalf jaar; deur hul alledaagse lewe, liefde en trou tot en met die dood en ewigheid. Deur die geliefdes Emily en George, hul sterk en liefdevolle ouers asook die vele ander plaaslike mense lewer Wilder universele waarhede oor wat dit is om mens te wees. Propvol humor en spitsvondigheid is Ons dorp steeds een van die mees opgevoerde, tydlose en klassieke verhoogdramas.

HUILBOEK deur Ryk Hattingh

“Die wenboek van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie is ‘n verhaal wat oor baie dinge gaan. Een daarvan is taal en verlange, hoe die taal Afrikaans self ‘n uitdrukking word van ‘n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek ‘n liefdesbrief van ver af, sonder adres. Die onheelbare pyn van ‘n vader wat nie van sy seun gehou het nie is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kan kom nie.” ‘n Nuwe werk deur wyle Ryk Hattingh; sy eerste in negentien jaar. Helder en poëties en tegelyk liries en wys, en meedoënloos eerlik.

DIE ONSIGBARES: HARTSTOG deur Krisjan Fourie

‘n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het ‘n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in ‘n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).

DIE WOORDEMAKER deur Ina Strydom

W.A. de Klerk sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. Die hoorbeeld is ‘n viering van die veelkantige vakman se werk. Dis ‘n herontdekking van ‘n woordsmid by uitstek. De Klerk was radioman, advokaat en skrywer. Toe die skryfgogga hom beetpak, het hy besef advokaatwees en skrywerskap is wedersyds uitsluitend en hy het hom op sy plaas Saffier naby die Paarl gaan vestig waar hy ‘n vrugtekweker was. De Klerk was ‘n veelsydige skrywer en het jeugverhale, reisverhale, essays, romans en dramas geskryf.

BRAAM VIER: DIT WAS ‘N VOORGEVOEL deur Abraham H. de Vries

Twee broers het weens ‘n familietwis vir 23 jaar lank nie kontak met mekaar gehad nie. Die oudste broer het ernstig siek geword en op sy sterfbed vra die gesinsdokter hom of hy die jonger broer moet ontbied om te kom afskeid neem, maar die koerante het ‘n berig geplaas waarin gemeld is dat die jonger broer ‘n belangrike prys in Swede sou ontvang. Gevolglik wou die ouer broer nie inbreuk maak op sy kleinboet se prestasie nie. Die jonger broer daag egter skielik op omdat hy skynbaar iewers van sy ouboet se siekte gehoor het. Of het hy dalk op ‘n gans ánder voorgevoel gereageer?

DIE SUSTER M’T DIE SNOR deur Ferdinand Deist

Ou suster Anna was ‘n onkantige ent mens gewees en dan’t sy pebliek ‘n snôr onner haar neus gehad – ‘n pikswarte. Die ou Skot Mister Miknemara is bedlêend en sorg eendag dat ou suster Anna sowaar ‘n glimlag onner daai snôr kry.