Uit ‘n ander hoek 18 November 2018

Gode is so oud soos die mensdom self, maar bestaan hulle regtig? En wat van die bonatuurlike? Jean Oosthuizen gesels hieroor met filosoof Willie Esterhuyse en teoloog Pieter Craffert.

KRANSPOORT SE KRAGPROBLEEM deur Dalene Matthee

Kitty Maritz gaan konfronteer burgemeester Stefaans Steyn oor die dorp se elektrisiteitsprobleem en verskeie eenhede krag wat maandeliks spoorloos verdwyn. Stefaans hou egter nie met Kitty se slim planne tred nie. En voordat hy sy oë uitvee, verras Kitty hom met iets wat heeltemal die wind uit sy seile neem. Of dalk nie?

Wipplank: Tobie Cronjé 70

Tobias Jurgens Cronje vier in November vanjaar sy 70ste verjaardag. Hy het drama aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy professionele loopbaan het in 1972 begin in die Truk-produksie van The Fantastics. Na meer as vier dekades in die bedryf, word hy steeds onthou vir rolle soos die van Willem, in die gelyknamige TV-reeks. Hy was ook te sien in flieks soos Kootjie Emmer en Babbelkous en Bruidegom, terwyl hy op die verhoog bekend is om sy talle “dames” in Janice Honeyman se jaarlikse pantomimes. Saam met sy vriendin en die aktrise Grethe Fox en die regisseur Andre Stolz, kuier die drie saam om Tobie se lewe en loopbaan te vier.

‘N MENS WEET NOOIT deur Dalene Matthee

Ouma Marais is aan haar bed en rolstoel gekluister. Naby Stilbaai-Wes, hoog tussen die digbegroeide duine, sit Ouma Marais se huis met die wye vensters sodat sy vêr kan uitkyk oor die kalkpaadjies, taaibos, roesbruin rotse en die see. Dan merk sy ‘n vreemde man op die strand, en por haar kleindogter, Engela, aan om te gaan ondersoek instel.

VÊR VAN DIE VERGETELHEID – WILMA STOCKENSTRÖM deur Ina Strydom

‘n Huldigingsprogram oor die digter en aktrise Wilma Stockenström wat op 7 Augustus vanjaar 85 jaar oud geword het. Sy word allerweë bestempel as een van die grootste stemme ná die Sestigers, en is een van ‘n handjievol skrywers wat die Hertzogprys in twee genres ontvang het. Die program fokus op voorlesings uit die digbundel, Van Vergetelheid en van Glans en die roman Abjater wat so lag – die werke waarvoor sy met die Hertzogprys bekroon is. Stockenström kan self ook gehoor word in materiaal uit die SAUK se klankargief.

Uit ‘n ander hoek 11 November 2018

Elke letter het sy ketter. Maar wat is ʼn ketter? Jean Oosthuizen gesels met Hansie Wolmarans, professor in Griekse en Latynse Studies, en die Nuwe-Testamentikus, prof. Andries van Aarde, oor kettery en dwaalleer.

Uit ‘n ander hoek 4 November 2018

Hoe versoen mens die Christelike geloof met Afrika-godsdienste, en is dit versoenbaar? Jean Oosthuizen gesels hieroor met die dekaan van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie, prof. Reggie Nel, en prof. Xolile Simon wat spesialiseer op die gebied van praktiese teologie en missiologie.