Skrywers en boeke 11 Oktober 2023

Phyllis Green, SARIE se boekeredakteur, gesels oor ‘n Afrikaanse boeke wat sy kan aanbeveel, soos Marita van der Vyver (LAASTE KANS), Madelein Rust (SIEMBAMBA) en Nicole Jaekel Strauss (DEELFONTEIN) se nuwe romans, en Marco van der Colf se debuutroman (DIEPER DROME). Ons kondig die wenner aan van die Stellenbosch Woordfees se kortverhaalbundelwedstryd. In sy internasionale bydrae vertel Johan Myburg meer oor die wenner van vanjaar se Nobelprys vir letterkunde, nuwe internasionale boeke vir jou leeslys, en ‘n splinternuwe Engelse vertaling van Homeros se klassieke werk, The Iliad.

Gesondheid 11 Oktober 2023

Jy is oorgewig en wil gewig verloor. Jy verloor 5 kg en dan steek alles vas. Hoekom? Kom vind uit hoe werk die fisiologie van oorgewig en gewigsverlies, want twee nuwe middels sal in die toekoms help om die foutiewe metaboliese bane in jou liggaam te help herstel.

Geestesgesondheid 10 Oktober 2023

Johan van Lill praat met opvoedkundige sielkundige Elzette Fritz oor seksualisering by kinders. In ‘n era waar die media en sosiale netwerke wemel van geseksualiseerde beelde en boodskappe, is dit noodsaaklik om te besin oor ‘n gesonde manier om volwasse te word.

Finansies 10 Oktober 2023

Denise Fourie en Johan Strydom van PSG Silver Lakes Pretoria en Outeniqua praat oor beleggingsbeginsels teenoor beleggers se emosies.

Regsake 9 Oktober 2023

Igna Klynsmith bespreek Apartheidswetgewing en hoe dit detyds in die hof toegepas is. Hy bespreek ook ‘n luisteraarsbrief wat handel oor jurisdiksie, en hoe dit werk indien iemand op ‘n vliegtuig ‘n misdaad sou pleeg. Spesialisgas Volker Krüger praat oor kontrakte en of dit via WhatsApp-boodskappe gesluit kan word.

Sterre en planete 8 Oktober 2023

Die Parker-satelliet, wat digby die son beweeg, het onlangs interessante bevindings gemaak. Die satelliet sal teen 2025, wanneer hy die naaste aan die son is, ‘n verbysterende snelheid van 690,000 km/h bereik! Een van die interessante plekke in die hemelruim is die somerkonstellasie waarin die Oriongroep die belangrikste is. Die James Webb-infrarooiteleskoop het onlangs in die Orionnewel nuwe voorwerpe raakgesien.

Stemme van hoop 8 Oktober 2023

Lizelle de Bruin gesels met dr. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis en Gregory Modungwa van Unashamedly Ethical oor hoe ons kan help bou aan sterker instellings soos families en skole. Die gesprek fokus op die verstaan van wat die rol van die burgerlike samelewing is in die heropbou van die land. Ons hoor ook van Augusta Brand oor die bou van die Jakes Gerwel Skool op Bonnievale.