Deel 2: Henco Kruger wil met hierdie aflewering die akademiese kant van kunsentrepreneurskap belig. Dr. Paul Loeb van Zuilenburg het vir sewe jaar musiekentrepreneurskap by die Universiteit van Pretoria gedoseer, en werk reeds 13 jaar as vryskutmusikant. Hy speel klassieke trompet en dirigeer sy eie orkeste. Hy het op primêre, sekondêre en tersiêre vlak onderrig in kunsentrepreneurskap gegee. en is steeds op al hierdie vlakke betrokke. Een van sy passies is om uitvoerende kunstenaars te bemagtig deur hulle in staat te stel om hulle eie finansiële ondersteuningstelsels te skep. Hy het talle internasionale en plaaslike pryse en toekennings hiervoor ontvang. Sy navorsingsvelde sluit in koperblaasuitvoering, kunste-ondernemerskap, leierskap, ekonomie en kreatiewe industrieë. Hy woon in Bloemfontein saam met sy musikale vrou, Elize, waar hy die dirigent en artistieke direkteur van die Bloemfontein Filharmoniese Orkes is. Met ‘n oupa wat sy eie bank in Duitsland besit het, en Paul wat ‘n MBA-graad verwerf het en ‘n doktor in kunsentrepreneurskap is, is hy die perfekte persoon om oor besigheid, finansies en kuns te gesels.