Vers en klank 19 November 2024

Sophia van Taak gesels met Alwyn Roux, ’n dosent aan UNISA se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, oor sy eerste digbundel, WEERSKYN, wat vroeër vanjaar by Protea Boekhuis verskyn het.

Vers en klank 12 November 2024

Sheila Cussons het gesê dat kunstenaars met ’n “primitiewe oog” na die wêreld kyk. Daarmee het sy bedoel: die oopheid, die verwondering wat ’n kind nog het. Luister na gedigte oor skilders, etsers en beeldhouers wat dinge ánders gesien het. Die voorleser is Hannah Borthwick.

Vers en klank 5 November 2024

Digter Lynthia Julius gesels oor haar digbundel, Kinderlê. Haar eerste bundel, Uit die kroes, het in 2020 verskyn. In hierdie tweede versameling is die gedigte nou ryper en meer deurleef. Sy praat openhartig oor haar tyd in ’n psigiatriese hospitaal, die vreugdes van ma-wees, maar ook die tragedies van menswees. En so tussendeur is daar lekker Nama-stapmusiek uit die Noord-Kaap waar Lynthia vandaankom.

Vers en klank 29 Oktober 2024

Wat maak van ’n gedig ’n ballade? Sophia van Taak verken die ballade as digvorm. Pieter van Zyl is die voorleser, en daar is ’n hele paar lekker, klassieke Afrikaanse gedigte om na uit te sien, soos D.J. Opperman se Ballade van die Grysland en S.J. du Toit se vertaling van Die Elwekoning.

Vers en klank 15 Oktober 2024

Wêreld-kosdag word op 16 Oktober gevier. Wanneer laas was jy honger? Vir die meeste van ons is dit ’n heel onbekende gevoel, iets wat jy dalk nog nooit ervaar het nie, maar meer as 700 miljoen mense het daagliks nie genoeg om te eet nie. Luister na gedigte wat ’n mens ’n slag net jou seëninge laat tel. Die voorleser is Hannah Borthwick.