RNE gewild, maar ANC/SAKP/Cosatu nie so tevrede

Terwyl ‘n onlangse peiling toon die RNE dra die meeste Suid-Afrikaners se goedkeuring weg, en partye wat deel is van die RNE se steun selfs toegeneem het, is daar steeds ontevredenheid binne die ANC en sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu. Sedert die vorming van die RNE het Cosatu en die SAKP geen geleentheid verby laat gaan nie om die RNE skerp te kritiseer en aan te val. Sunday Times berig verskeie grootkoppe in die ANC is ongelukkig omdat die BELA-wette nie bloot bekragtig is nie. Ons praat hieroor met Hermann Pretorius van die Instituut vir Rasseverhoudinge.

Só gaan Bakgat-beskuit vir liefdadigheid versprei word

Meer as 1 500 inskrywings, meer as ‘n halwe ton beskuit – dit is meer as 36 000 stukkies beskuit! Noudat die baie suksesvolle Bakgat-beskuitkompetisie afgehandel is, moet die verspreiding van die duisende stukkies beskuit gedoen word. Om RSG en Virseker daarmee te help, het die liefdadigheidsorganisasie, MES, ingestem om die beskuit aan behoeftiges te versprei. MES se bestuurshoof, Leona Pienaar, sluit by ons aan.

SA’ner se baanbrekernavorsing oor antibiotika-weerstandigheid

Volgens die Wêreld-gesondheidsorganisasie is weerstand teen antibiotika een van die grootste gevare in openbare gesondheid met sowat 1,3 miljoen mense wat in 2019 as gevolg daarvan gesterf het. ‘n Suid-Afrikaanse navorser in Swede het onlangs sowat R10 miljoen ontvang vir sy navorsing oor antibiotika-weerstandigheid en rare aardmetale. Dr. Roelof Coertze is ‘n navorser by die Universiteit van Gothenburg in Swede, wat hierdie navorsing doen

Lugmag, Vloot in groot gemors

Suid-Afrika het ‘n kuslyn van meer as 2 800 kilometer, en ‘n ekslusiewe ekonomiese sone in die oseaan van ongeveer 1,5 miljoen vierkante kilometer, groter as Suid-Afrika se landoppervlakte, wat deur die Vloot bedien en beskerm moet word. In ‘n antwoord op ‘n parlementêre vraag, het die Minister van Verdediging, Angie Motsekga ‘n baie donker prentjie geskets oor wat in die Vloot en Lugmag aangaan. Ons praat hieroor met die vryskutjoernalis wat hieroor en oor ander sake vir Rapport berig het, Erika Gibson.