Skip to content

NUUS

RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.

10 Februarie 2025

6:00 AM

Mbuyiseni Ndlozi het aangekondig dat hy die EFF verlaat. Hy was vir elf jaar lid van die party. Dit volg na maande se bespiegelings van tweespalt in die party en Ndlozi se opvallende afwesigheid by die EFF se verkiesingskonferensie in Johannesburg wat in November plaasgevind het. Ndlozi sê hy wil nie meer deel van party politiek wees nie, en sal deel word van die akademie en die burgerlike gemeenskap. Hy het dit duidelik gestel dat hy nie deel van die MK-party gaan word nie, maar het gevra dat die EFF en MK saam moet werk. Die EFF het intussen skerp gereageer op 'n boodskap van die miljardêr Elon Musk op sosiale media dat Julius Malema as 'n internasionale misdadiger verklaar en sanksies teen hom ingestel moet word. Hooggeplaaste lede van die Trump-administrasie het die afgelope week verskeie beskuldigings gemaak en Suid-Afrika veroordeel - vir wat hulle noem - 'n anti-wit agenda. Die EFF se nasionale woordvoerder, Sinawo Thambo, sê hulle die VSa moet hom by sy eie sake bepaal. Die soek-en-reddingsoperasie na vermeende onwettige myners by 'n verlate mynskag in Roodepoort aan die Wesrand sal vanoggend om agtuur hervat word. Dit is gister weens veiligheidsredes tydelik afgelas. Die omstandighede rondom die vasgekeerdes is in die stadium nog onduidelik. Dit blyk dat 'n onbekende aantal myners vasgekeer is, nadat die toestel gebreek het waarmee die myners bogronds gebring word. Geen beserings of sterftes is tot dusver aangemeld nie. Israelse troepe het onttrek aan die Netzarim-korridor - 'n militêre gebied wat die noorde van die Gaza-strook van die suide afsny. Dit is in ooreenstemming met die wapenstilstandooreenkoms wat Israel en Hamas op 19 Januarie gesluit het. Sestien Israelse gyselaars en 566 Palestynse gevangenes is reeds ingevolge die ooreenkoms vrygelaat. 'n Israelse afvaardiging het intussen in Doha in Katar aangekom vir verdere samesprekings oor die Gaza-wapenstilstand. HOKKIE: Die Suid-Afrikaanse mansspan het geskiedenis gemaak deur die bronsmedalje by die binnenshuise hokkiewêreldbeker in Kroasië te verower. Suid-Afrika het België met 6-5 in die uitspeelwedstryd om die bronsmedalje gewen. Mustaphaa Cassiem het weer 'n driekuns behaal. RUGBY: Ierland het opgeskuif tot bo-aan die punteleer van die Ses Nasies-toernooi na 'n oorwinning van 32-18 oor Skotland op Murryfield in Edinburgh. Ierland het 10 punte na twee wedstryde in die toernooi, vier punte meer as Frankryk en Engeland.