Dié reeks van vier episodes neem jou op ‘n reis saam met mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het en ander trauma ervaar het, maar tóg weer hoop in hulle wanhoop kon vind. RSG se voormalige geleentheidskoördineerder, Müriel Janse van Rensburg, vertel hoe sy tot verhaal kom met talle traumatiese ervarings in haar lewe. Sy verloor albei haar aanneemouers op die ouderdom van vyf jaar, en word daarna tussen familie en ‘n kinderhuis groot onder moeilike omstandighede. “As jy ‘n jong kind is, verstaan jy nie altyd waaroor verlies gaan nie; hoekom dit gebeur nie. Ek is van baie jongs af basies alleen gelaat.” Later in haar lewe deurstaan Müriel ook ander trauma wat diep sny. “Jy leer om daarmee saam te leef en nie jou hele lewe om daardie verliese te bou nie, maar om vorentoe te kyk.”